Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Lae koste het ook risiko

Laekoste-eiendomsagentskappe maak deesdae opslae in die media. Met lewenskostes van Suid-Afrikaners wat elke dag styg, is dit nuuswaardig dat daar ’n diens is wat belowe om minder te kos. Soos die meeste dinge in die lewe kan ’n mens egter nie net alles glo wat jy hoor nie, sê Tony Clarke, besturende direkteur van die Rawson Property Group groep.

’n Kundige eiendomsagent is elke sent werd wanneer jy jou eiendom wil verkoop. Foto: iSTOCK

“Dit is altyd opwindend om nuwe interpretasies van die tradisionele eiendomsagentskapmodel te sien,” sê hy. Nuwe modelle kan dit egter vir eienaars moeilik maak om hul opsies te verstaan. In die geval van laekoste-eiendomsagentskappe was die laer kostes baie in die nuus, maar heelwat minder publisiteit om te verduidelik wat jy kry vir die tariewe en wat jy moontlik prysgee in die proses.”

Volgens Clarke is een van die algemene misverstande dat laekoste-eiendomsagente die goedkoopste opsie vir verkopers gaan wees. “Die meeste laekoste-eiendomsagentskappe het ’n minimum fooi wat wissel tussen R29 500 en R39 995, plus BTW.

“Dit is nie verrassend nie, hulle moet hul kostes dek, maar as jy in ag neem dat die huidige middelpunt van eiendomspryse in Suid-Afrika net meer as R1 miljoen is, is daardie minimum tarief dikwels gelyk aan of selfs meer as die tradisionele eiendomsagent se 5%.

“Dit beteken dat verkopers in die middelste en laer gedeelte van die mark vir wie besparings die belangrikste is, die meeste vir hierdie ‘laekoste-diens’ betaal.”

Verkopers met duurder eiendomme sal dalk vind dat die “laekoste”-tariewe meer bekostigbaar is, maar Clarke waarsku dat sekere ekstras ook die prys kan opstoot. “Die tipiese ‘laekoste’-kommissie dek net die noodsaaklike aspekte en beslis nie al die dienste wat jy verwag nie,” sê hy.

Tevredenheid en tegnologie

Die verskuilde kostes stop nie by opsionele ekstras nie. Die meeste laekoste-agentskappe hef ook ’n kansellasiefooi as verkopers verkies om nie verder van hul dienste gebruik te maak nie.

“Ek het nog altyd geglo dat dit belangrik is dat verkopers enige tyd hul kontrak met hul eiendomsagent kan kanselleer as hulle voel die diens is nie op standaard nie,” sê Clarke. “Dit bevorder goeie kliëntediens en verlaag die verkoper se risiko. Deur ’n finansiële boete te vra vir kansellasie kan agentskappe eintlik doen wat hulle wil sonder enige nagevolge.”

Een van die redes waarom laekoste-agentskappe goedkoper tariewe kan vra is weens die tegnologie wat hulle gebruik om baie van hul dienste te outomatiseer.

Volgens Clarke klink dit fantasties op papier, maar maak nie altyd sin in ’n bedryf wat met mense se emosies en persepsies te doen het nie.

“Data en statistieke is fantasties,” sê hy, “maar wanneer dit by eiendom kom, vertel dit net die helfte van die storie. Tegnologie kan nooit die insigte van ’n goed opgeleide plaaslike eiendomsagent vervang nie.”

Terwyl alle agentskappe data gebruik vir hul waardasies, sê Clarke statistieke kan jou net so ver bring.

“Statistieke behels gewoonlik onlangse oordragte en nie huidige eiendomme op die mark nie. Die statistieke is gewoonlik ’n paar maande oud,” sê hy. “Dit kan ’n onakkurate waardasie beteken. Statistieke kyk ook nie na goed soos koperstendense, -style en atmosfeer nie.”

Vir die meeste laekoste-agentskappe is hierdie inligting amper onmoontlik om te bekom aangesien daar so min eiendomsagente werk in groot areas.

“Daar is ook minder motivering vir eiendomsagente om te mik vir ’n goeie prys, aangesien hul kommissiestrukture en vaste tariewe beteken dat dit meer winsgewend is vir hulle om vinnig te verkoop eerder as om vir ’n goeie prys te onderhandel,” sê Clarke.

Verkopers wat laekoste-agentskappe gebruik, kan vind dat hulle sukkel om kopers te kry, selfs al is die prys op ’n vlak wat vinnige verkope kan beteken. “Die mark is tans onder druk en eiendomsagente moet hul verwysingsnetwerke gebruik om kopers te kry. Die nuwer agentskappe het nog nie dié soort netwerk opgebou om met die groter agentskappe te kompeteer nie.”

Clarke gee toe dat die laekostemodel ’n nuwe benadering bring tot ’n ou bedryf en is opgewonde om te sien hoe die model gaan ontwikkel. Hy waarsku verkopers om nie opgesweep te raak deur publisiteit nie.

“Eiendom is ’n groot bate en die verkoop daarvan kan nie in enigeen se hande gelaat word nie.”

  • Vir meer inligting stuur ’n e-pos aan marketing@rawsonproperties.com
Meer oor:  Huisgids  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.