Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Landgoedere die gewildste opsie

Het jy al na ’n voorstad gekyk en gewens jy het in die eiendomsmark daar belê toe dit nog redelik bekostigbaar was?

Seeff brei uit oor die voorstede in Centurion en Pretoria wat vyf jaar gelede goeie beleggingsgeleenthede ingehou het asook die voorstede wat slim beleggers gerus nou kan oorweeg.

Hierdie vyfslaapkamerhuis in Midstream Estate is gelys vir R4 595 000. Foto: Seeff

Centurion

Steve van Wyk, Seeff se besturende direkteur in Centurion, sê mense wat vyf jaar gelede in eiendom in moderne veiligheidslandgoedere in Centurion of in deeltiteleiendom naby Centurion se Gautrein-stasie belê het, het ’n uitstekende belegging beet.

“Dié eiendomme het beter opbrengste in hul verkooppryse getoon en is steeds hoog in aanvraag. Omdat veiligheid ’n al hoe groter rol speel wanneer op eiendom besluit word, het veiligheidslandgoedere in Centurion ongelooflik gewild geword. My voorspelling is dat dit so gaan bly.”

Dit geld veral vir veiligheidslandgoedere met hul eie skole, mediese fasiliteite en winkels, soos Midstream Estate.

“As jy dit kan bekostig, is dit slim om in ’n veiligheidslandgoed te koop. Indien nie, is eiendom in ’n moderne deeltitelkompleks naby snelweë of die Gautrein-stasie ’n goeie belegging. Eenhede met twee slaapkamers, twee badkamers en ’n dubbelmotorhuis sal altyd die beste prys behaal.”

Pretoria-Oos

Gerhard van der Linde, Seeff se besturende direkteur in Pretoria-Oos, sê voorstede in die verre ooste van Pretoria soos Hazeldean, Silver Lakes en Lombardy brei vinnig uit en bied baie nuwe toegangsroetes tot skole. Mediese fasiliteite, ’n winkelsentrum, kantoorparke, ’n kommersiële distrik, toerisme-aantreklikhede en leefstylgeboue word vir dié omgewing in die vooruitsig gestel.

“Redes om in die ooste van Pretoria te belê, is die nuwe stadsontwikkeling genaamd ‘The East Capital’ met toegang vanaf die N4, die nuwe Hazeldeanweg wat die N4 aan die R21 sal koppel en ’n Gautrein-stasie by die nuwe ontwikkeling wat maklik toegang tot die O.R. Tambo-lughawe sal bied.

“Die hele gebied bied 12 landgoedere wat voorsiening maak vir ’n wye verskeidenheid behoeftes en prysklasse. Eiendom wissel van eenslaapkamereenhede tot meenthuise en vrystaande huise.”

Van der Linde sê jy sou vyf jaar gelede ’n uitstekende belegging gemaak het as jy eiendom naby Menlyn Maine gekoop het.

“Menlyn is een van die streke in Gauteng wat die vinnigste groei. Hierdie voorstede was nog altyd gewild, maar die belangstelling nou is ongekend oor al die nuwe ontwikkeling en werksgeleenthede wat geskep is.

“Ontwikkelings in dié omgewing het ’n positiewe uitwerking op voorstede soos Garsfontein, Menlopark, Alphen Park, Newlands, Constantiapark en Ashlea Gardens, waar eiendomswaardes die hoogte ingeskiet het.

“Dit is moeilik om huureiendom hier te vind, en eienaars vra hier ’n premie vir huureiendom.”

Pretoria-Noord (Jakaranda)

Peter Mokwana, Seeff se besturende direkteur in Pretoria-Noord, sê goeie beleggings in hierdie gebied vyf jaar gelede was losstaande eiendom met drie slaapkamers en twee badkamers op erwe van ongeveer 600 m².

“Hoewel daar steeds ’n aanvraag hiervoor is om te huur, is daar deesdae ’n sterk tendens na huur- en koopeiendom in veiligheidskomplekse of landgoedere.

“Huise met twee slaapkamers en een badkamer is gewild onder eerste kopers vanweë die veiligheidsfaktor, en omdat dit bekostigbaarder is as losstaande eiendom. Ons verwag dat dié tendens sal voortduur.”

Meer oor:  Seeff  |  Pretoria  |  Centurion  |  Landgoedere  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.