Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Maak só met kleuter se kamer

Die meeste ouers sal saamstem dat kleuters uiters veeleisend kan wees – g’n wonder die gesegde lui dat dinamiet in klein pakkies kom nie!

Kinderkamers moet prakties wees, maar ook maklik om weer van tema te verander.

Teen die tyd dat jou kind twee of drie jaar oud is, het hulle nie net hul eie kenmerkende persoonlikheid met duidelike voor- en afkeure ontwikkel nie, maar is die kans ook goed dat hulle dié voorkeure gereeld luidkeels met jou deel!

Hoe moet jy te werk gaan om ’n tema vir jou kleuter se slaapkamer te kies? Natuurlik wil jy hul kamer spesiaal en uniek maak, maar om ’n tema te im­plementeer kan ook tydrowend en duur wees.

Aangesien kleuters nie juis bekend is vir hul konsekwentheid nie, is dit belangrik om seker te maak dat jy nie te veel geld bestee nie. Jou dogtertjie kan die een oomblik nog in die sewende hemel wees oor haar Finding Nemo-te­ma, net om die volgende dag aan te kondig sy verkies in der waarheid ’n Frozen-tema.

Corinne D’Aguiar, ’n agent by Seeff Centurion, gee die volgende wenke oor hoe om tyd en geld te bespaar wanneer jy ’n tema kies:

  • Moenie die mure verf nie! Om te verf is ’n drastiese stap en jy gaan dit waarskynlik dan weer binne ’n paar maande (of dae!) moet oorverf. Doen navorsing oor verskillende soorte muur­papier – dit is ’n vinnige manier om ’n tema aan ’n slaapkamer te verleen, maar ook makliker om te verwyder as verf.
  • Koop of maak los goedjies wat by die tema inpas pleks daarvan om enigiets te installeer. As die tema Barbie is, koop dan byvoorbeeld ’n Barbie-lamp en muurhorlosie. Barbie-beddegoed is ook ’n goeie idee. Wanneer jy (of jou kleuter) dan besluit julle wil die tema verander, kan hierdie stukke maklik verwyder en verkoop word.
  • As jy jou kind vrye teuels gee om ’n tema te kies, kan jy moontlik later spyt wees. Stel drie temas voor waarmee jy en die res van die huisgesin kan saamleef en laat jou kind op een besluit.
  • Omkeerbare beddegoed is ook ’n goeie idee vir die dae wanneer julle ’n bietjie afwisseling be­nodig. Wanneer jy dan terugkeer na die kant van die beddegoed met die tema op, sal dit van voor af splinternuut en opwindend wees vir jou kleuter.
  • Oorweeg dit om unisekstemas uit te ruil met vriende wat kinders van min of meer dieselfde ouderdom het. Sodoende kan jy twee temas per jaar hê vir die prys van een. Om hierdie rede is dit ook belangrik om die slaap­kamermure neutraal te hou.
  • Onthou om veiligheid in ge­dagte te hou. Kleuters hou daarvan om op beddens te spring – koop dus ’n laer bed indien moontlik. Bedek ook skerp hoeke, kragproppe en drade, en koop sagte matte of ’n speelmat vir die vloer.
  • Belê in slim bergplek, maar hou die kleure neutraal sodat dit weer gebruik kan word. Bêre­houers wat onder die bed kan inpas, is verstandig omdat dit ruimte bespaar en ook die kamer netjies hou.
  • Doen baie navorsing op Pinterest en maak ’n lysie van jul guns­telingtemas. Stel ’n begroting op en hou daarby.

Hier is ’n paar temas vir kleuters se slaapkamers wat tans gewild is: eenhorings, Disney­karakters soos prinses Elsa van Frozen, lugballonne, meerminne, safari-avonture, aksiehelde soos Batman, die ruimte en sterrestelsels, dinosourusse en seediere.

Meer oor:  Kleuters  |  Huisgids  |  Kamer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.