Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Markoorsig: Grondkwessie knou eiendom

Sonder om noodwendig verder in die uitgerekte debat oor “Grondonteiening sonder vergoeding” (GSV) betrokke te raak, is dit tog insiggewend dat die paneel wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel is, se onlangse voorstelle oor die wysigings aan ons Grondwet, bykomende belasting vir boere en moontlike grondplafonne nie noodwendig prakties en ekonomies implementeerbaar is nie. Voedselsekerheid (soos ons belowe is) sal in die proses ook nie gewaarborg kan word nie.

Met al die ekonomiese skokgolwe kan die grondkwessie die laaste strooi wees wat die kameel se rug breek sodat Moody’s ons land se skuld tot rommelstatus afgradeer.

’n Stabiele eiendomsmark sal tot voordeel van die hele land wees. Foto: iSTOCK

Moody’s steun nie GSV nie, omdat dit die reeds hoë institusionele risikoprofiel van ons land verder sal verhoog.

Die grondkwessie sal veral buitelandse beleggersvertroue en belegging en die poging om werkloosheid te bekamp ’n nekslag toedien met rimpeleffekgevolge – wat beslis ook sy tol in ons vuisvoos eiendomsmark sal eis.

Dit is ’n onbetwisbare feit dat eiendomsreg en die beskerming daarvan ’n wêreldwye vereiste vir handel is. Dit is een van die hoekstene vir ’n gelukkige en suksesvolle samelewing.

Daar is alternatiewe en werkbare maniere sonder om bestaande grondeienaarskap in gevaar te stel soos die voorgestelde grondregister waar myne, staatsdepartemente en munisipaliteite onbenutte grond kan skenk vir kommersiële landboudoeleindes, asook die omskepping van onbenutte, talle leegstaande staatskantoorblokke in ons stede vir deeltitelbehuising.

Tog is daar ook nugter denkende leiersfigure wat dit duidelik maak dat enige veranderinge aan art. 25 van ons Grondwet onnodig is.

Die mening word uitgespreek dat die regte oplossing eerder gesetel is in die aanspreek van die onbevoegdheid van ons huidige regering wat nagelaat het om effektief en kundig leiding te gee om die reeds bestaande en uitgebreide grondhervormingsprojekte van die afgelope 25 jaar reg te bestuur.

Dit is wêreldwyd ’n erkende feit dat eiendom een van die grootste katalisators vir ekonomiese vooruitgang is.

Dit is een van die grootste bydraers vir staatsinkomste deur hereregte betaalbaar op eiendomstransaksies, asook die heffing van volgehoue maandelikse eiendomsbelastings – en juis daarom behoort die bedryf beskerm te word as ’n volgehoue en bydraende bate vir die staatskas.

Ten einde stabiliteit en volgehoue groei te verseker vir ons kommersiële en industriële sektore, landbou en residen­siële eiendomsmark as ’n aantreklike beleggingsbate – ook wat ons internasionale beleggers betref – is ekonomiese en politieke stabiliteit, duidelike riglyne oor grondherverdeling en gewaarborgde individuele eiendomsregte en -eienaarskap, ononderhandelbare vereistes.

Dit is ’n dringende saak wat nou vir eens en altyd uitgeklaar moet word ten einde verdere skade aan ons eiendomsmark te beperk en nuwe momentum aan die gang te kry.

Eiendomseienaarskap is ’n fundamentele reg en ’n pilaar van demokrasie wat nie net deur ons Grondwet beskerm word nie, maar ook deur die internasionale reg en verskeie internasionale humanitêre regskonvensies.

Die skynbare ontbreking van politieke wil om op te staan ter wille van ideologiese en populistiese steun, asook die voortdurende voetslepery en uitstel aangaande die neerlê van duidelike maatstawwe hieroor, het ’n groot negatiewe impak op elke sektor van die eiendomsmark.

Mag iemand spoedig die ligte by die Uniegebou aansit (hopelik terwyl Eskom nog hou), in die besef dat dié waardevolle ekonomiese hoeksteen veilig bewaar behoort te word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.