Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Ondertekening van testament

Jou testament is waarskynlik een van die belangrikste dokumente wat jy ooit in jou lewe sal onderteken. Ten einde uitvoering aan jou laaste wense te gee moet jou testament aan sekere vereistes voldoen soos voorgeskryf in die Wet op Testamente (Wet 7 van 1953).

Jou testament is een van die belangrikste dokumente wat jy ooit sal onderteken. Foto: iStock

Indien jou testament nie voldoen aan die vereistes soos in dié wet voorgeskryf nie, kan dit tot gevolg hê dat jy intestaat sterf en jou boedel sal dan intestaat geadministreer word ingevolge die bepalings van die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987).

Die Wet op Testamente skryf die volgende vereistes vir ’n geldige testament voor:

  • Die testament moet op skrif wees;
  • Die erflater moet 16 jaar of ouer en handelingsbevoeg wees;
  • Die testament moet aan die einde van die dokument deur die erflater of deur iemand anders in die teenwoordigheid en in opdrag van die erflater onderteken word;
  • Onderteken word in die gelyktydige teenwoordigheid van twee of meer bevoegde getuies (dit is persone ouer as 14 jaar wat bevoeg is om in ’n geregshof te getuig);
  • Die getuies by die testament moet ook in die teenwoordigheid van die erflater en van mekaar onderteken;
  • Indien die testament uit meer as een bladsy bestaan, moet elke bladsy deur die erflater of sy/haar verteenwoordiger en deur dieselfde getuies onderteken word;
  • Indien die testament deur die erflater of sy/haar verteenwoordiger deur die maak van ’n merk onderteken word, moet ’n kommissaris van ede sertifiseer dat hy hom oortuig het van die identiteit van die erflater en dat die aldus ondertekende testament die testament van die erflater is;
  • Enigiemand met ’n indirekte of direkte belang in die boedel mag nie as ’n getuie teken nie (dieselfde geld trustees, eksekuteurs en hul gades).

Die Wet op Testamente definieer “teken” as:

“ ‘Teken’ omvat die maak van voorletters en slegs in die geval van ’n erflater, die maak van ’n merk (maar sluit nie die maak van ’n merk in die geval van ’n getuie in nie, en ‘handtekening’ het ’n ooreenstemmende betekenis.”

Wanneer wysigings soos regstellings, skrappings en byvoegings aan ’n testament aangebring word, moet die erflater of sy/haar verteenwoordiger en twee bevoegde getuies sodanige wysiging in mekaar se teenwoordigheid onderteken deur ’n handtekening by die wysiging te maak.

Die feit dat die erflater nie sy/haar naam kan teken nie en slegs ’n kruis, merk of vingerafdruk aanbring, maak nie ’n testament ongeldig nie. Die getuies moet wel hul name kan teken.

Ferdi Verryn

Wanneer ’n erflater ’n kruis, merk of vingerafdruk maak, moet dit voor ’n kommissaris van ede aangebring word. Die kommissaris van ede moet elke bladsy asook wysigings onderteken, en aan die einde van die testament die voorgeskrewe sertifikaat aanbring en onderteken.

Die kommissaris van ede mag nie die testament as ’n getuie onderteken nie.

Dit is slegs nodig om een oorspronklike weergawe te onderteken, maar dit word aanbeveel om meer as een te onderteken en apart te bewaar ten einde die risiko van vernietiging van die oorspronklike testament te verhoed.

Die Wet op Testamente bepaal nie dat ’n testament gedateer moet word nie.

Dit word egter aanbeveel dat dit wel gedoen word, aangesien daar meer as een geldige testament met botsende bemakings en bepalings tydens afsterwe kan bestaan.

Dit is dan ook baie belangrik dat jy in jou testament bepaal dat alle vorige testamente en kodisille herroep word.

’n Testament wat nie aan die basiese voorgeskrewe formaliteite voldoen nie, kan ’n regsrisiko skep. Daarom moet jou testament aan al die regsvereistes voldoen, onder meer behoorlik geteken wees, ook deur geskikte getuies, en op ’n veilige plek bewaar word.

Meer oor:  Huisgids  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.