Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Só lyk ’n klein badkamer groter

As jy probeer om jou huis te verkoop sal die meeste professionele eiendomspraktisyns vir jou sê dat die beste kamers om op te knap, die badkamers is.

Ongelukkig, as jy regtig klein badkamers het, sal die koste om vir dié ruimtes ’n nuwe baadjie aan te trek, dalk hemelhoog wees.

’n Badkamer met natuurlike lig en eenvoudige, treffende dekorelemente is ’n trekpleister vir kopers.Foto: iSTOCK

Gelukkig is daar slim, goedkoop maniere om hierdie ruimtes groter te laat lyk en voel sonder om ’n konstruksiespan in te roep en hope skuld te maak.

“Die sleuteloorweging wanneer jy opknap om te verkoop is die opbrengs op die belegging op die projek wat jy wil aanpak.

“Dit mag soms nodig wees om ’n bietjie kapitaal aan te wend om jou eiendom beter te laat lyk sodat dit ’n groter kans het om te verkoop. Verkopers moet egter hierdie koste so laag as moontlik probeer hou om ’n negatiewe opbrengs te vermy,” meen Adrian Goslett, streeksdirekteur en uitvoerende hoof van Re/Max Suidelike Afrika.

Hy gee as ’n vereenvoudigde voorbeeld: As ’n verkoper R50 000 betaal om sy/haar badkamer op te knap, maar die waarde van die huis verhoog net met R10 000, dan het daardie verkoper ’n negatiewe opbrengs van R40 000 op daardie belegging gekry.

Om verkopers te help om nie te oorkapitaliseer op hul opknappingswerk nie, gee Re/Max die volgende wenke om jou badkamer beter te laat lyk:

Los die teëls, verf eerder

In plaas daarvan om ’n fortuin te spandeer op nuwe badkamer­teëls, verf eenvoudig die bestaande teëls ’n meer neutrale kleur om die spasie groter te laat lyk. Maak net seker jy koop goeie gehalte badkamerteëlverf en berei die badkamer korrek voor voordat jy begin verf.

Moenie dekor afskeep nie

As jy die spasie volstop met ’n klomp dekoritems, kan dit die kamer laat kleiner voel, maar as jy dekoritems strategies plaas, kan dit die badkamer meer funksioneel en aanloklik laat lyk.

Gebruik die leë ruimte bo die toilet om rakke aan te bring waarop netjiese mandjies gebruik kan word om items te stoor. Skep die illusie van hoër plafonne deur ’n gordynreling nader aan die kant van die plafon aan te bring en vermy donker, swaar gordyne.

Laat daar lig wees!

Die vinnigste manier om ’n ruimte groter te laat lyk, is om seker te maak dit is goed belig. Opgradeer jou ligte en maak seker daar is geen hoekies wat in donkerte gehul is nie.

Voeg gegeurde kerse by om ’n knus atmosfeer te skep.

“Baie verkopers maak die fout om te dink dat hul badkamer uitgevat moet wees met die duurste afwerkings om só die waarde van die eiendom te verhoog. Dikwels is dit egter die eenvoudigste badkamerontwerp wat baie beter lyk as ontwerpersbadkamers.

“Dit is gegrond op die eenvoudige beginsel van massa-aanklank: hoe meer geld jy aan jou badkamer spandeer, en hoe meer uniek jy dit maak, hoe meer kopers sluit jy uit gebaseer op bekostigbaarheidskwessies of sake van persoonlike smaak.

“Die beste veranderinge wat jy kan maak, is dié wat ’n ruimte groter, praktieser en aantrekliker laat voel,” sê Goslett.

As jy sukkel om te besluit hoe om jou badkamers op te knap beveel Goslett aan dat jy kontak maak met ’n kundige eiendomspraktisyn wat jou kan raad gee.

“ ’n Ervare eiendomspraktisyn sal weet wat kopers wil hê wanneer dit kom by badkamers. Hulle kan dus verkopers leiding gee oor hoe om die ruimte die beste te laat lyk om die verkoop van die eiendom te bespoedig.”

  • Om in kontak te kom met ’n agent van RE/MAX, besoek remax.co.za.
Meer oor:  Huisgids  |  Badkamer  |  Dekor  |  Opknapping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.