Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Vakansiehuis ’n goeie belegging

’n Belegging in ’n vakansiehuis verskaf ’n plek waarheen ’n mens kan ontsnap uit die gejaag van jou daaglikse lewe. En, met ’n wye verskeidenheid bestemmings oor die land heen, is kopers bederf met keuses wanneer dit kom by die plek waar hulle ’n vakansiehuis kan koop.

Doen eers jou navorsing voordat jy in ’n vakansiehuis belê. Foto: iStock

Volgens Adrian Goslett, streeksdirekteur en uitvoerende hoof van Re/Max Suider-Afrika, kan ’n vakansiehuis ’n goeie belegging wees wat op lang termyn ook goeie opbrengste kan lewer, solank kopers hul huiswerk oor die area doen voordat hulle koop.

Om kopers te help om goeie beleggingsbesluite te neem wanneer dit kom by die koop van ’n vakansie-eiendom, gee Goslett drie wenke:

Gaan die waarde toeneem?

“Voordat jy jouself verbind tot enige eiendomstransaksie, doen navorsing oor die area en vind uit of die waarde van die eiendom die afgelope paar jaar toegeneem het, en met hoeveel.

“Ander faktore om te oorweeg is hoe goed die area en sy geriewe in stand gehou word, en ook of daar enige planne is om die area in die voorsienbare toekoms verder te ontwikkel.

“Terwyl sommige ontwikkelings die eiendomme in die area se waarde sal verhoog, is daar weer ander wat dit minder aanloklik kan maak en dus eiendomspryse sal laat verlaag.

“Opgraderings aan infrastruktuur of die ontwikkeling van ’n nuwe winkelsentrum kan eiendomspryse laat toeneem, maar konstruksie en meer verkeer in die area kan ’n negatiewe impak hê op die rustigheid van die buurt,” verduidelik Goslett.

Huurinkomste

“ ’n Vakansiehuis kan huurinkomste genereer, maar die mees winsgewende tye sal wees tydens vakansies, maar dit is dan ook waarskynlik wanneer jy self in die huis wil bly.

“Dus, voordat jy ’n vakansie-eiendom koop, maak eers seker of die koste daarvan en om dit in stand te hou die moeite (en geld) werd sal wees as jy dit net sekere tye van die jaar kan verhuur.

“Neem ook die impak van rentekoersverhogings oor die termyn van die lening in ag, sowel as instandhouding, sekuriteit, versekering, heffings, belasting en so meer omdat dié uitgawes met jou huurinkomste vergelyk moet word om te sien of jy enige wins gaan maak.”

Wie bestuur die eiendom?

“As ’n mens in ag neem dat die meeste vakansiehuise nogal ver is van waar die eienaar bly, is daar altyd die vraag oor wie ’n oog gaan hou en die nodige gaan doen by die eiendom,” sê Goslett.

“Dit is dalk die moeite werd om ’n professionele eiendomsbestuur-maatskappy aan te stel om na die eiendom te kyk.

“Hulle sal gereelde inspeksies uitvoer en ook voornemende huurders keur en uitsoek, indien nodig. Dit sal natuurlik lei tot addisionele onkoste, maar dit gee vir jou gemoedsrus dat daar na jou eiendom gekyk word terwyl jy nie daar is nie.

“Dit kan op lang termyn lei tot besparings omdat jy nie vir duur herstelwerk hoef te betaal as gevolg van ’n huis wat leeg staan nie,” meen Goslett.

As ’n finale stukkie raad beklemtoon Goslett die belangrikheid van deeglike navorsing.

“Soos met enige belegging sal navorsing kopers help om te bepaal of dit regtig ’n goeie belegging gaan wees sodat jy nie jou geld mors nie. Doen altyd jou huiswerk om te verseker dat die belegging wat jy maak die langtermyn- finansiële verpligting werd is.”

  • Vir advies van ’n eiendomskundige, besoek www.remax.co.za.
Meer oor:  Huisgids  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.