Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Vermy grys areas van huurproses

Om die perfekte huureiendom teen die regte prys te kry is elke huurder se droom, maar soms is die details belangrik. Volgens Jacqui Savage, nasionale verhuringsbestuurder by die Rawson Property Group, moet jy nooit ’n verhuringskontrak teken voordat jy die volgende vier belangrike vrae gevra het en die antwoorde verstaan nie.

Maak seker jy verstaan alles wat in jou verhuringskontrak staan voordat jy teken. Foto: iSTOCK

Instandhoudingspligte

Die meeste huurders en verhuurders het ’n billike begrip van die herstelwerk en instandhouding wat verwag word by ’n eiendom.

Dag-tot-dag-instandhouding en verbruikersitems soos gloeilampe is die huurder se verantwoordelikheid, terwyl strukturele instandhouding en foutiewe toebehore die verhuurder se probleem is. Of is dit?

“Dit is soms nie duidelik waar die huurder se verantwoordelikheid stop en die verhuurder s’n begin nie,” sê Savage. “Deur hierdie details duidelik uit te spel, maak dit dinge baie makliker later en kan dit konflik en moeilikheid vermy.”

’n Tipiese “grys area” is hoeveel instandhouding as normaal beskou word. Is dit standaard om ’n woonstel ná ’n jaar oor te verf of is dit oordadig en word dit deur huurder-agterlosigheid veroorsaak? As jy prente teen die mure hang, is Polyfilla en ’n bietjie verf oor die gaatjies genoeg of verwag jou verhuurder dat jy die hele muur moet oorverf?

“Om hierdie vrae aan die begin uit te klaar, is in almal se beste belang en dit help baie om ’n positiewe verhouding tussen ’n huurder en verhuurder te handhaaf.”

Kompleksreëls

Dit is nie net die kompleksreëls waaroor jy moet bekommerd wees as jy in ’n deeltiteleiendom intrek nie. Elke gemeenskap beskik oor sy eie gedragsreëls waaraan inwoners moet voldoen.

“Reëls oor troeteldiere, toelaatbare geraasvlakke en wanneer jy gemeenskaplike areas mag gebruik kan ’n groot verskil aan die lewenstyl maak wat jy in jou nuwe huis gaan hê,” sê Savage.

“As een van die redes waarom jy intrek is om groot partytjies by die swembad in die gemeenskaplike area te hou, maak seker dit word toegelaat voor jy die langtermynhuurkontrak teken.”

Maak ook altyd seker dat die beheerliggaam se reëls/riglyne aangeheg is om te teken wanneer jy die huurooreenkoms teken.

Hierdie soort situasie is baie makliker om op te los as die partye se rolle vooraf bespreek is.

Heffings/boetes

Gedragsreëls gaan dikwels gepaard met boetes vir eienaars of inwoners wat per ongeluk of met opset die reëls oortree. Volgens Savage is dit vir huurders die moeite werd om seker te maak wie die boetes gaan betaal as so iets wel gebeur.

“Gewoonlik word enige boetes wat gehef word as gevolg van die huurder se gedrag direk aan die huurder oorgedra,” sê sy. “Daar kan egter soms verwarring wees oor die geld wat gevra word vir agterstallige heffings.

“Gewoonlik is dit die verhuurder se verantwoordelikheid, maar dit kan gebeur dat dit na die huurder oorgedra word as die huurder agterstallig is met huur. Hierdie soort situasie is baie makliker om op te los as die partye se rolle vooraf bespreek is.”

Gemeenskaplike areas

Dit is dikwels nie duidelik in die kontrak of die huurder verantwoordelik is vir hul gedeelte van die kompleks se koste soos water en elektrisiteit nie. Dit is noodsaaklik dat die huurder al dié vrae vra of anders gaan hulle aan die einde van die eerste maand ’n rekening kry vir koste waarvoor hulle nie begroot het nie.

“Die belangrikste aspek van enige goeie verhuringservaring is kommunikasie,” verduidelik Savage. “As jy onseker is omtrent enige besonderhede, vra jou verhuringsagent, verhuurder of ’n onafhanklike raadgewer vir duidelikheid.”

Meer oor:  Instandhouding  |  Huisgids  |  Huur  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.