Xenia Swart (20) en Tylene Coleman (19), albei oorspronklik van Springs, moes al in Mei na Suid-Afrika teruggekeer het, maar sit nog in Europa vasgekeer.
Dié twee het vroeg verlede jaar besluit om hul oorbruggingsjaar in Nederland deur te bring waar hulle au pair-werk doen. Swart is in Amstelveen en Coleman in Utrecht.

Tylene Coleman en Xenia Swart van Springs tydens ’n besoek aan Duitsland
Swart het op 11 Junie 2019 in Nederland aangekom. Met die staat van inperking wat in Suid-Afrika van krag is, weet Swart nie wanneer sy sal kan huis toe kom nie. “Ek het tans nie eens ’n vlugdatum nie,” sê sy. Sy sê daar is voor- en nadele daaraan verbonde om langer aan te bly. ’n Voordeel is dat sy kans kry om Nederland verder te verken, maar die nadeel is dat sy die afgelope maand twee familielede aan die dood moes afstaan en nie een van die begrafnisse kon bywoon nie.
Coleman is al van Mei verlede jaar af in Nederland. Ná ’n opwindende jaar weg van die huis af het sy daarna uitgesien om huis toe te kom en haar gesin weer te sien, maar dit was nie moontlik nie. Sy het aanvanklik gesukkel om te aanvaar dat sy nie kan terugkeer nie. Sedert Mei het Coleman al drie bespreekte vlugte gehad, maar almal is gekanselleer.
“Ek besef ek is in ’n beter situasie hier.”