Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Affie (17) mik na Olimpiese Spele in 2020

Twee sekondes vinniger in die 200 m-vlinderslag sal die 17-jarige Duné Coetzee van die Afrikaanse Hoër Meisieskool se groot mikpunt wees wanneer sy vandeesweek aan die Junior Wêreld-swembyeenkoms in Budapest deelneem.

Kry sy dit reg, is daar ’n goeie kans dat sy Suid-Afrika aanstaande jaar by die Olimpiese Spele in Tokio sal kan verteenwoordig.

Om aan die Spele deel te neem is haar droom, amper van die eerste keer toe sy ’n medalje in die swembad verower het.

Duné Coetzee van die Afrikaanse Hoër Meisieskool hoop om haar tyd vir die 200 m-vlinderslag met 2 sekondes te verbeter om sodoende vir volgende jaar se Olimpiese Spele in aanmerking te kom.Foto: REG CALDECOTT

Dit is nie ’n onrealistiese doelwit nie, want 2018 was vir haar ’n droomjaar.

Coetzee was die jongste Suid-Afrikaanse deelnemer by die Statebondspele in Australië. Sy het haar nie daardeur laat intimideer nie en steeds ’n persoonlike beste tyd in die 200 m-vlinderslag opgestel.

’n Besliste hoogtepunt was die silwermedalje wat sy op die Olimpiese Jeugspele in dié nommer verower het. Sy is ook die afgelope drie jaar die Suid-Afrikaanse senior kampioen.

Op die oomblik is Coetzee se vinnigste tyd in die 200 m-vlinderslag 2:10.89. Die Olimpiese kwalifiserende A-vereiste is 2:08.43.

Dié Tuks-swemmer verkeer onder geen illusie oor die uitdaging wat op haar wag nie. Enige swemmer sal daarvan getuig om jou tyd in enige slag met twee sekondes te verbeter, beteken net een ding: Jy moet swem dat jy bars, al protesteer jou liggaam hoe erg.

Coetzee se statistieke vertel ’n goeie storie. Sedert 2017 het sy haar tyd in die 200 m-vlinderslag al amper met vier sekondes verbeter. Twee jaar gelede was haar beste tyd 2:14.38 en verlede jaar 2:11.71 en nou is dit 2:10.89.

Die Affie skryf haar volgehoue vinniger tye aan absolute toewyding toe. Meer as een keer ’n week daag sy vroeër by die swembad op om ekstra lengtes te swem. Selfs op Sondae ná kerk duik sy soms in.

Die harde werk werp vrugte af. Twee weke gelede het sy Suid-Afrika by die Senior Wêreldbyeenkoms in Suid-Korea verteenwoordig. Haar afrigter, Linda de Jager, sê hulle het dit as ’n harde oefensessie beskou.

“Gedurende die Wêreldbyeenkoms het Duné bly oefen soos sy elke dag by Tuks sou doen. Dit het beteken dat sy steeds amper 10 km geswem het.

“Die idee was nie dat sy medaljes moes wen nie. Swem Suid-Afrika wou net hê dat sy gewoond daaraan moet raak om teen die wêreld se bestes mee te ding.

“Ten spyte hiervan het sy steeds baie na daaraan gekom om haar tye te verbeter. Haar tyd in die 200 m-vlinderslag was 2.11.92. In die 800 m-vryslag het sy haar tyd tot 8:47.97 verbeter.”

Coetzee skryf haar passie toe aan die feit dat sy in die middae saam met Tatjana Schoenmaker kan oefen. Die Tukkie het op die onlangse wêreldbyeenkoms (50 m-swembad) Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis gemaak deur die eerste vroueswemmer te word om ’n medalje te wen.

“Tatjana is nie net ’n vriendin nie. Sy is ’n mentor vir ons almal. Met haar prestasies sedert verlede jaar se Statebondspele en nou op die wêreldbyeenkoms het sy aan ons as vroueswemmers bewys dat ons groot moet droom.

“Die enigste beperking wat daar is, is die beperking wat jy op jouself plaas deur in jou eie vermoëns te twyfel.”

Behalwe die 200 m-vlinderslag gaan Coetzee ook aan die 100 m-vlinderslag en 200 m- asook 400 m-vryslagnommer deelneem.

Meer oor:  Afrikaanse Hoër Meisieskool  |  Uitblinker  |  Jip  |  Skolesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.