Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
André die hipnotiseur in lewende lywe in Brakpan

André die skreeusnaakse hipnotiseur is Vrydag vir die eerste keer sedert die inperking begin het op die verhoog voor ’n gehoor. Hy sal by Carnival City op die planke wees en hy sê hy is verheug om weer voor ’n gehoor te kan optree.

“Ná die inperking van vyf maande kan ek nie wag om ’n klomp vrywilligers onder hande te neem en te verander in sangers, dansers, diere en huishoudelike items nie,” sê hy. “Dis natuurlik alles net vir vermaak.”

André die skreeusnaakse hipnotiseur is Vrydag by Carnival City vir die eerste keer sedert die inperking begin het weer op die verhoog voor ’n gehoor in ’n lokaal te sien.

André het sy eerste TV-advertensie gemaak toe hy vyf jaar oud was. “Ek het toe reeds geweet dat ek op die verhoog wou wees, maar ek het nooit geweet wat ek op die verhoog wou doen nie,” sê André.

“Toe, in 1987, sien ek ’n program deur die legendariese Max Collie. Ek was so mal daaroor dat ek onmiddellik geweet het dat dit was wat ek wou doen. Ek het hom genader oor opleiding en ná sy dood in 1990 het ek oral in die land begin optree.”

André sê iemand wat onder hipnose is, bly steeds in beheer en onthou ná die tyd presies wat hy gedoen het.

“Alle suggesties waarop so iemand sal reageer, sal binne die raamwerk van die vrywilliger val en ’n mens se brein beskerm jou op so ’n manier dat jy nie jou diepste geheime sal uitlap nie,” sê André. “ ’n Vrywilliger sal hom byvoorbeeld nie kaal uittrek tensy hy iemand is wat in elk geval by elke partytjie so iets doen nie.”

André het ook al oorsee opgetree. Hy sê hy is mal oor Suid-Afrikaanse gehore, maar dat ons mense in vergelyke met die oorsee nog baie skaam is.

“In Amerika kry ’n mens baie vrywilligers wat rêrig enigiets sal doen,” sê André.

“Die Australiërs hou weer van programme wat ’n bietjie onder die belt is.

“Suid-Afrikaners hou van vinnige programme en wil die hele gesin saambring.”

André vertel van ’n geval waar hy iemand onder hipnose voorgesê het om vir hom kwaad te wees tot die punt waar hy vir André sou wil slaan. Gewoonlik sal André in beheer bly deur bloot te sê “slaap” waarna die vrywilliger plat op die grond gaan lê, maar daardie dag kon die persoon hom nie hoor nie.

“Daardie aand het die gehoor so gelag dat die vrywilliger my nie gehoor het nie en toe is dit ék wat op die vloer lê, met kneusplekke en ’n geswelde lip,” sê hy. “Maar nou ja, dis hoe die vermaaklikheidswêreld werk.”

André sê hy is gek oor sy werk en daar is niks beters as om mense te laat skaterlag nie. Maar as hy nie op die verhoog is nie, is hy eintlik ’n skamerige ou. Een van sy gunsteling-tydverdrywe is om grotte te verken.

Kaartjies is by Computicket teen R180 elk beskikbaar vir André se vertonings by Carnival City. Vrydag en Saterdag is hy om 19:00 op die planke en dan weer volgende Woensdag om 18:00. Laasgenoemde optrede sal ook vir TV-doeleindes opgeneem word. Spesiale Covid-19-maatreëls geld by Carnival City.

  • Skakel 011 815 3000 of rig ’n e-pos aan admin@lefra.com om meer uit te vind.
  • Metro-Beeld het drie dubbeltjie kaartjies om vir een van André se vertonings weg te gee. Om in aanmerking te kom, stuur ’n e-pos na metro@beeld.com. Sluit jou, naam telefoonnommer, waar jy woon en na watter een van die vertonings jy graag sal wil gaan in. Tik die naam “André” in die onder-werplyn van jou e-pos.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.