Die 18-jarige Arno van Zijl (Tuks) kan spog met iets wat baie min ander Suid-Afrikaanse stoeiers al vermag het. Dit is om twee keer agtereenvolgens goud op die Junior Afrikakampioenskap te wen.
Hy het op die onlangse kampioenskap in Algerië al vier sy gevegte in die o.74 kg-gewigsafdeling gewen om te verseker hy word as o.20-kampioen gekroon. Verlede jaar was hy Afrika se o.18-kampioen.

Arno van Zijl (18) van die Hoërskool die Wilgers in Pretoria is deel van Tuks se stoeispan. Foto: Reg Caldecott
Netwerk24Foto: Reg Caldecott
Dit sal geen verrassing wees as hy aanstaande jaar ’n unieke “goue driekuns” voltooi nie.
Van Zijl was eintlik nie veronderstel om nou al te wen nie omdat hy teen ouer en meer ervare stoeiers meegeding het. Aanstaande jaar is hy een van die “ou manne” in die o.20-afdeling.
Dié stoeier brand om homself werklik teen die wêreld se bestes te toets. Hy het verlede jaar sy eerste voorsmakie gekry toe hy op die Junior Wêreldkampioenskap in die o.18-afdeling meegeding het. Van Zijl het goed gedoen om sy eerste geveg te wen, maar toe besef hy kort ervaring om werklik sy man op die matte te kan staan.
“Ek sal bitter graag later vanjaar aan die Junior Wêreldkampioenskap wil deelneem, maar omdat ek in matriek aan die Hoërskool Die Wilgers is, is my studies in dié stadium belangriker. Ek het heelwat planne vir aanstaande jaar, maar niks sal realiseer as ek druip nie. So die kans is skraal dat ek in die volgende paar maande weer internasionaal sal deelneem.”

Arno van Zijl (18) van die Hoërskool Die Wilgers in Pretoria is deel van Tuks se stoeispan. Foto: Reg Caldecott
Netwerk24Foto: Reg Caldecott
Van Zijl is eerlik in sy antwoord as hy gevra word waaraan hy sy sukses by die Afrikakampioenskappe toeskryf.
“Ek stoei al vandat ek vier jaar oud is. Ek het sommer gou agtergekom dat as ek ’n kampioen wil word gaan dit absolute toewyding verg. Vir die laaste tien jaar is ek die een wat gereeld ná oefening agterbly om daardie ekstra vyf of 15 minute daaraan te werk om ’n spesifieke tegniek te bemeester. Ek dink al daardie ekstra tyd op die mat werp nou vrugte af.”
Van Zijl vertel daar is spesifieke aspekte wat belangrik is vir enige stoeier wat daarvan droom om ’n kampioen te word.
“Die belangrikste is ’n ‘sterk kop’. Jy moet glo jy kan wen. Partykeer is dit moeilik. Gedurende die Afrikabyeenkoms in Algerië het my teenstander van Marokko met ’n welige baard gespog. Dit was nogal intimiderend. Ek moes eers die geveg in my kop wen. Ek het dit vir myself uitgemaak dat hy nes ek ook net twee arms en twee bene het. So ek kan hom klop en ek het.
“Fisiese krag en fiksheid is ’n absolute moet in stoei maar dit is nie al nie. Om vir ’n paar minute op ’n slag te stoei klink dalk nie so erg nie, maar glo my partykeer voel dit soos ’n ewigheid. Die oomblik wat jy op die mat stap moet jy gefokus wees. Jy moet daartoe in staat wees om die hele tyd strategies te dink. Dit is ’n geval van as jou teenstander dít doen gaan dít my teenreaksie wees. Die ideaal is om amper te weet wat jou teenstander beplan nog voordat dit gebeur. Daardie enkele sekonde wat jou konsentrasie glip kan die verskil tussen wen en verloor beteken.”
Rubin Jansen van Vuuren en Kian du Toit is die ander Tuks-stoeiers wat medaljes op die Junior Afrikakampioenskap verower het. Albei het derde in hul onderskeie gewigsafdelings geëindig.