Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Bloedsuiker: Holly waarsku haar mens

Lize Marais (17) en Holly, ’n samoyed-kruising, is soos vinkel en koljander: die een is soos die ander, en waar die een is, sal jy die ander een vind.

Holly is Lize se beste vriend en haar lewensredder. Want Holly weet wanneer Lize, ’n tipe 1-diabetes-lyer, se bloedsuiker gevaarlik laag daal.

Lize Marais, ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, en Holly. Foto: RETHA FICK

Diabetes is by Lize gediagnoseer drie dae voor haar eerste verjaardag. In gr. 8 het sy die eerste keer in haar slaap in ’n koma geraak omdat haar bloedsuikervlak te laag gedaal het.

“Ek het in die hospitaal wakker geword en nie geweet hoe ek daar beland het nie,” vertel Lize van daardie verskriklike dag. Dit het drie keer daarna weer gebeur.

“My ma, Lizelle, het navorsing begin doen oor diabetes en op Hon­ey’s Garden for Medical Alert Dogs SA in die Kaap afgekom.

“Dienshonde soos Holly is in Amerika algemener. Holly is egter die eerste in haar soort in Suid-Afrika.”

Holly is vir ’n jaar en ’n half lank by Honey’s Garden as dienshond opgelei.

Dié spesiale honde is egter peperduur. Maar die astronomiese bedrag het nie vir Lize afgeskrik nie. Sy het besluit om fudge te bak en by die kerk verkoop.

Kitsfeite

Dit kos aldus Honey’s Garden for Medical Alert Dogs SA tot R100 000 om ’n mediese dienshond op te lei en te plaas.

Dit sluit in diabetes-waarskuwingshonde, emosionele ondersteuningshonde en honde wat mense bystaan wanneer hulle ’n toeval kry, soos in die geval van epilepsielyers, asook psigiatriese dienshonde en honde vir gehoorgestremdes.

Veeldoelige dienshonde staan mense by wat toestande het soos outisme, serebrale verlamming, downsindroom of fetale alkoholsindroom.

Honde wat emosionele ondersteuning bied, kos tot R40 000 en word gebruik in traumasentrums, howe, psigiatriese hospitale, tehuise vir bejaardes en kinderhuise.

Die eerste Sondag se verkope by die NG Moedergemeente in Meyerton het ’n verstommende R31 000 opgelewer, waarvan ’n groot gedeelte ’n enkele kontantbedrag was.

Vinnig-vinnig het die gesin die R50 000 vir Holly bymekaar gehad en is Lize Kaap toe om haar nuwe beste vriend beter te leer ken.

Dit was inderdaad liefde met die eerste oogopslag.

“Holly en ek is baie dieselfde. Ons is nie baie lief vir mense nie. Eintlik pas ons persoonlikhede perfek.”

Lize was baie opgewonde om Holly huis toe te bring.

“Ek het uitgesien om ’n hond te hê wat my beskerm en oral saam met my is.”

Sedertdien is dié twee onafskeidbaar. Holly ruik wanneer Lize se bloedsuiker val en is geleer om haar dan met haar poot te kap. Indien Lize slaap, sal Holly nie rus voordat Lize opgestaan het en haar bloedsuikervlak gestabiliseer het nie.

Holly het Lize se lewe verander.

“Ek slaap nie meer onrustig nie en selfs my akademie het drasties verbeter.”

Wanneer Holly reg was met ’n waarskuwing, word sy met ’n stukkie kaas of lewer beloon. As dit ’n vals alarm was, het sy dalk net aandag gesoek, en dan kry sy nie ’n eetdingetjie nie.

Raak Lize nie moeg om die hele tyd te verduidelik waarom Holly oral saam met haar is nie? “Dit is soms moeilik, veral om mense te laat verstaan dat hulle nie Holly se aandag van my af moet aftrek nie. Mense moet byvoorbeeld nie gedurig aan haar wil vat nie.

“Maar ek geniet dit om bewustheid vir diabetes te skep. Daar is nog steeds mense wat dink ’n mens het diabetes omdat jy te veel lekkergoed eet.”

  • Volg Lize en Holly se avonture op Facebook by Freedom with Holly – A Diabetic Diary.
Meer oor:  Gesondheid  |  Diabetes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.