Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
DBV-man klim Kilimandjaro vir diere

Ronald Ramalata (50), ’n senior inspekteur by die Johannesburg-tak van die Dierebeskermingsvereniging, gaan in Julie Kilimandjaro uitklim om geld vir diere in nood in te samel. Ramalata werk al bykans 29 jaar vir die DBV en hy sê dis tyd om iets aan die diere terug te gee.

“Ek hoop om meer as R50 000 vir diere in nood in te samel,” sê die pa van twee. “Toe ek my vrou sê wat ek van plan is om te doen, het sy gesê ek is van my sinne beroof en dat daar geen manier is wat sy my sal toelaat om die berg te pak nie.”

Ronald Ramalata gaan in Julie Kilimandjaro uitklim om geld vir diere in nood in te samel.Foto: MARTHINUS KOEKEMOER

Maar Ramalata is nie iemand wat maklik van stryk gebring word nie en hy het aan sy vrou se arm bly draai tot sy ingegee het.

Hy het in ’n landelike omgewing in Limpopo grootgeword waar hy baie tyd in die buitelug deurgebring het. Dis ook hier wat hy sy liefde vir diere ontwikkel het.

Ramalata het in 1990 na Johannesburg verhuis en het gedroom van onderwyser word, maar geld vir swot was daar nie.

Hy het by ’n gesin gebly met bande met die DBV en so het hy ook as ’n jong man daar as hok­assistent begin werk.

Oor die jare het hy bevordering gekry en hy is al sedert 2003 die hoof van die Johannesburg-tak se inspekteurs.

Deesdae geniet hy veral om mense te leer van diere en hoe om hulle te versorg.

“Ek is nooit regtig af nie en moet soms op kort kennisgewing ’n dier in nood gaan help,” sê Ramalata.

“Dit maak nie saak hoe laat dit is wat ek ’n oproep ontvang nie, ek is nie die soort mens wat ’n dier in nood kan ignoreer nie.”

Ramalata pak vanjaar die vyfde keer die FNB-10 km-wedloop in Johannesburg om vir die DBV geld in te samel. Hy draf gereeld en fiksheid behoort die minste van sy probleme te wees wanneer hy Kilimandjaro moet uitklim. Wat hom wel bekommer, is die onvoorspelbare weersomstandighede by Afrika se hoogste piek.

“Ek dink die weer gaan die grootste uitdaging wees,” sê Ramalata. “Dit kan sommer vinnig van baie warm na baie koud verander.”

Dis ook hoekom hy goeie stewels, ’n tent en slaapsak gaan nodig hê. Gelukkig hoef hy darem nie alles self die berg uit te dra nie aangesien hy in ’n groep sal stap waar daar helpers sal wees wat van die swaarder items sal dra.

“Ons stap in ’n internasionale groep mense en ek sien reeds baie daarna uit om nuwe vriende te maak,” sê Ramalata.

“Van wat ek gehoor het, is daar altyd ongelooflike kameraderie onder stappers. Dit sal die eerste keer wees dat ek so iets aanpak en ek hoop dit sal nie die laaste keer wees nie.”

  • Besoek die Johannesburg-DBV se webwerf of Facebook-blad om meer oor Ramalata se avontuur uit te vind of om hom te borg.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.