Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Deesdae lyk dit of die duiwel los is . . .

Prof. Matilda Burden wys ons in haar kultuurgeskiedenis-navorsing daarop dat die duiwel in die volksgeloof van die Afrikaanssprekende ’n bekende faktor is. Volksgeloof, sê sy, is die geloof wat die volksmens het in verskynsels wat nie deur sy amptelike kerkgeloof bevestig word nie. En wie is die volksmens? Enige mens in ’n situasie waar opleiding en fyner kultivering nie van hom vereis word nie.

Die duiwel met gesplete kloue, pote en horings (B. Lehane, Wizards and Witches)

Die Christen ken die oorsprong van die duiwel in die skepping van die engele, en hoe die duiwel met sy gevolg van God verwyder geraak het omdat hy geweier het om die hemelse boodskap uit te dra. Hy verpersoonlik boosheid en ongeregtigheid en maak slinkse planne om die mens se aandag van God af te trek.

In die laat-Middeleeue was die Europese volksmens van mening dat hy sy siel vrywillig aan die duiwel kon verkoop vir persoonlike gewin. Ons kan dit die Faust-motief noem, na ’n kêrel wat teen 1500 gelewe het. Hy was bedrewe in die toorkuns en het sy siel verkoop. Die beroemdste Faust-verhaal was dié van Goethe aan die begin van die 19de eeu.

Hierdie sieninge het ook aan die Kaap onder die vroeë Afrikaanssprekendes posgevat. In die 18de- en 19de-eeuse Suid-Afrika het die volksgeloof geglo jy kan jou siel aan die duiwel verkoop as jy reeds mondig is. Hoe meer jy dan na die duiwel se hand speel, hoe meer gaan hy jou help.

Die prominente plek wat die duiwel in ons volksgeloof ingeneem het, word weerspieël deur die talle verwysings na hom in die verskillende aspekte van ons volkslewe, maar veral in die volkswoordkunde. Hy het baie name, want jy noem nie sommer die bose op sy regte naam nie, dus: Ou Bokvoet, Ou Blinkoog, Ou Pylstert of Ou Niek. Hy is opgeneem in plekname, soos Duiwelspiek of Duiwelskloof. Jy kry hom in plant- en dierename soos duiwels­asem (dagga) en duiwelsbrood (’n giftige sampioen). En in uitdrukkings: die duiwel in wees, so bang soos die duiwel vir ’n slypsteen wees, ledigheid is die duiwel se oorkussing, en praat van die duiwel dan trap jy op sy stert.

En wie weet nie van die Afrikaanse sprokie van kaptein Van Hunk en die duiwel nie? Van Hunk het graag teen Windberg (Duiwelspiek) gesit en pyp rook. Eendag verskyn daar ’n vreemdeling en daag hom uit tot ’n rookwedstryd. Die wit walms het teen Tafelberg afgesak soos hulle gerook het, drie dae en drie nagte lank. Toe slaat die vreemdeling neer.

Fransjohan Pretorius

Van Hunk bekyk hom en toe hy twee horinkies op sy kop sien, besef hy dis die duiwel. Skielik het albei in ’n donderslag verdwyn. Van toe af gaan die rookwedstryd voort. Dan hang die wit damp oor die berg.

Dis waar Tafelberg se kleed glo vandaan kom.

Baie van die volksgelowe rondom die duiwel bly slegs voortbestaan as ’n vertelling, ’n grap of ’n gesegde, en die volksmens glo nie meer in hom nie. Maar deesdae lyk dit asof die duiwel los is.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Terugblik  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.