Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Die Cullinan-diamant

Vandag nog is daar hier en daar ’n gebrom dat die Cullinan-diamant in 1907 deur die Transvaalse regering van genl. Louis Botha aan koning Edward VII geskenk is.

Koning Edward VII. Die Cullinan-diamant is in 1907 aan hom geskenk.

Hierdie bykans vlekkelose knewel van 3 106,75 karaat met afmetings van ongeveer 10,2 x 6,35 x 5,9 cm het op 26 Januarie 1905 by die Premier Diamond Mine, oos van Pretoria, sy verskyning op die sorteertafel gemaak. Dit is die grootste diamant wat nog gevind is en het die naam Cullinan-diamant gekry na aanleiding van die myn se voorsitter, Thomas Cullinan.

Daar was genoeg rede vir Botha en sy koloniale sekretaris, genl. Jan Smuts, om die diamant aan Edward te skenk. Dit sou hul aanvaarding van Suid-Afrika se posisie binne die Britse ryk bewys, en die Liberale simpatiseerders in Brittanje, wat nou aan die bewind was, verseker dat hulle op die na-oorlogse Boereleierskap kon staatmaak.

Toe teken Botha en Smuts sommer lekker politieke punte vir hul Het Volk-Party aan teen die opposisie – die Progressives van George Farrar en Percy Fitzpatrick – deur ’n mosie in die Wetgewende Vergadering in te dien dat die diamant aan koning Edward geskenk word. Die Progressives, wat as ’n kapitalistiese party bestempel is, was in ’n moeilike posisie. Aan die een kant sou so ’n geskenk aan hul koning hul goedkeuring wegdra en hul lojaliteit aan die kroon betoon, maar aan die ander kant was hulle juis die party wat daarop gehamer het dat die Transvaal ná die oorlog ’n arm kolonie was, wat sy finansiële gordel stywer moet trek.

Botha het gesorg dat hy eenparige steun in die Het Volk-koukus kry. Selfs die behoudende genl. C.F. Beyers het verklaar dat die beoogde geskenk ’n simbool sou wees van die lojaliteit aan die kroon van nie net die Transvaal nie, maar die hele Suid-Afrika. Genl. Koos de la Rey het matige steun vir die projek uitgespreek, maar bygevoeg dat hy nie sulke lojaliteit kon betuig nie, iets wat volgens hom geleidelik moes ontwikkel.

Die Wetgewende Vergadering het Botha se mosie met 42 stemme teen nege goedgekeur en die regering het die diamant vir £150 000 aangeskaf.

Die taak om die reuse-diamant te sny, is aan Joseph Asscher van Amsterdam toevertrou.

Op aanbeveling van die Britse kabinet het Edward aangedui dat hy die geskenk aanvaar “as the expression of loyalty of the whole people of the colony irrespective of party”. Op 9 November 1907 is die diamant by geleentheid van sy verjaardag aan hom oorhandig.

Die taak om die reuse-diamant te sny, is aan Joseph Asscher van Amsterdam toevertrou. Hy het nege knewels, 96 sierdiamante en meer as nege karaat se gepoleerde fragmente daaruit gesny. Die grootste twee is aan die Britse kroon geskenk. Die peer-vormige 530.2 karaat Great Star of Africa is in die imperiale septer gemonteer, en die 317,4 karaat Second Star of Africa het sy weg na die imperiale kroon gevind.

Asscher het die sewe ander grotes gekry, maar Edward het een daarvan vir koningin Alexandra gekoop en die ander ses is aangeskaf en in 1910 “namens die mense van Suid-Afrika” aan koningin Mary geskenk. Koningin Elizabeth besit dit nou.

Diamante as geskenk –’n skitterende idee?

Meer oor:  Fransjohan Pretorius
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.