Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Eskom wil kragprop uittrek

Verskeie dele van die Wes-Rand en die Vaaldriehoek kan dalk eersdaags sonder krag wees. Dit volg nadat Eskom die Mogale City-, Merafong- en Emfuleni-munisipaliteit gewaarsku het om hul afbetalingsooreenkomste na te kom of die betrokke dorpe kan vir ure op ’n slag in donker gedompel word.

Eskom het kennisgewings in plaaslike koerante geplaas waarin inwoners van sy voorneme ingelig is.

Dorpe wat geraak kan word, is onder meer Carletonville, Welverdiend, Fochville, Krugersdorp, Magaliesburg, Vereeniging en Vanderbijlpark. Indien die munisipaliteite nie ’n plan maak nie, lui die kennisgewing van Eskom, kan kragtoevoer vanaf 19 Maart verminder of selfs afgeskakel word.

Metro-Beeld het verlede jaar berig van die finansiële verknorsing van die munisipaliteite aan die Wes-Rand, met Merafong se skuld aan Eskom wat al bykans R369 miljoen bereik het. Mogale City se skuld aan Eskom het by R119 miljoen gedraai voor ’n aantal afbetalings wel gemaak is. Emfuleni in die suide van Gauteng se skuld is ongeveer R1,4 miljard en ’n afbetalingsooreenkoms was in plek, maar die munisipaliteit het nie daarby gehou nie.

Mogale City se skuld aan Eskom het by R119 miljoen gedraai voor ’n aantal afbetalings wel gemaak is.

“Dit is onregverdig dat betalende inwoners moet boet vir diegene wat geen poging aanwend om hul maandelikse rekeninge te betaal nie,” sê Ben van der Berg, VF Plus-raadslid in Merafong. “Die Merafong-munisipaliteit se krediet-invorderingstelsel is ooglopend onsuksesvol en ’n klinkklare bewys dat dié ANC-beheerde raad nie die vermoë het om dorpe suksesvol te bestuur nie.”

As Merafong nie betyds ’n plan sou maak nie, kan inwoners verwag dat hulle van 19 tot 25 Maart meer as ses ure per dag nie krag sal hê nie. Vanaf 26 Maart sal inwoners van 06:00 tot 20:00 nie krag hê nie.

Ina Cilliers, DA-LPW, het ook mond uitgespoel oor die situasie by Merafong. “Inwoners betaal hul rekenings, maar loop nou die risiko dat hul krag afgesny gaan word,” sê sy. “Dis onaanvaarbaar en die munisipaliteit moet ’n plan maak om Eskom te betaal.”

Mogale City het aan De Lange gesê dat die R32 miljoen reeds betaal is, maar sy wag nog op bewyse van die betaling.

Die VF Plus het deur monde van Amanda de Lange, LPW, ’n brief spesifiek oor die situasie in Mogale City aan Lebogang Maile, Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, gerig. In sy antwoord het hy gesê hy sal alles in sy vermoë doen om te sorg dat die afbetalingsooreenkomste met Eskom wel nagekom word. Voorts het hy genoem dat hy bekommerd is oor die negatiewe impak wat die situasie op die plaaslike ekonomie kan hê.

“Volgens ons rekords skuld Mogale City nou R92 miljoen, nadat hy in ’n stadium R119 miljoen geskuld het,” sê Maile.

“Die munisipaliteit het onderneem om ’n verdere R32 miljoen in Januarie aan Eskom oor te betaal, met die grootste deel van die uitstaande skuld wat in Februarie betaal sal word.

“Volgens die munisipaliteit se ooreenkoms met Eskom word die rekening betaalbaar sodra die faktuur van Eskom ontvang is. Die munisipaliteit het ons die versekering gegee dat daar nie kragonderbrekings vir agterstallige skuld sal wees nie. Ek sal die situasie verder monitor.”

Mogale City het aan De Lange gesê dat die R32 miljoen reeds betaal is, maar sy wag nog op bewyse van die betaling.

Van der Berg het inwoners aangeraai om die nodige voorsorgmaatreëls te tref ingeval die ergste wel sou gebeur.

Meer oor:  Eskom  |  Fochville  |  Carletonville  |  Krugersdorp  |  Magaliesburg  |  Elektrisiteit  |  Kragonderbrekings  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.