Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Gauteng-regering is 2de vrotste betaler

Die Gautengse provinsiale regering is die tweede vrotste provinsie in die land wat die betaling van diensverskaffers binne 30 dae betref. Net die Oos-Kaap vaar slegter.

Inderwaarheid vaar Gauteng en die Oos-Kaap so sleg dat hul skuld saam meer is as wat op nasionale vlak geskuld word.

Hierdie inligting is ingesluit in ’n verslag van die Openbare Dienskommissie (ODK) wat onlangs in die Gautengse wetgewer voorgelê is.

“In Oktober verlede jaar was daar 19 259 fakture in Gauteng,” sê Ariana Randall, DA-lid in die Gautengse wetgewer. “Die uitstaande skuld was toe R1,2 miljard, maar dit was teen Desember meer as R1,4 miljard met bykans 21 000 fakture.”

In die Oos-Kaap het die getalle darem teen Desember beter ge- lyk as wat die geval in Oktober was.

Die grootste sondebok in Gauteng is die departement van gesondheid waar net omtrent ’n kwart van fakture binne die voorgeskrewe 30 dae betaal word.

“Baie departemente monitor nie hul prosesse behoorlik nie of korrupsie en bedrog lei daartoe dat verskaffers nie betaal word nie,” sê Randall.

“Hoe dit ook al sy, dis onaanvaarbaar dat die Gautengse regering nie betalings binne 30 dae doen nie.

“Laat betalings lei letterlik tot die einde van kleiner ondernemings wat nie kop bo water kan hou indien betalings nie betyds gedoen word nie.

“Die DA beoog om die saak met David Makhura, die premier, en die LUR vir finansies op te neem.”

Amanda de Lange, VF Plus-lid in die Gautengse wetgewer, sê juis Makhura het verlede jaar gesê die Gautengse regering wil diensverskaffers binne 15 dae betaal.

“Ons het kort ná Makhura se aankondiging die hoop uitgespreek dat hulle wel betalings binne 15 dae sal doen,” sê sy. “Dit het egter nie gebeur nie.

“Dis baie onregverdig teenoor veral klein en medium-ondernemings wat groot uitgawes aangaan om werk te doen as die provinsie hulle nie binne ’n redelike tydperk betaal nie.

“Die probleem is niks nuut nie en die VF Plus ontvang jaar ná jaar klagtes van diensverskaffers wat kla omdat hulle nie betaal word nie.”

Ander bevindings van die ODK se verslag is dat die departemente van infrastruktuurontwikkeling en onderwys ook ’n redelike agterstand met betalings binne 30 dae het.

Drie departemente het glad nie skuld wat ouer as 30 dae is nie, terwyl ander departemente se skuld wissel van net meer as R11 000 tot omtrent R5,5 miljoen.

Die redes wat aan die ODK verskaf is vir laat betalings, wissel van tekorte in begrotings tot diensverskaffers wat nie hul besonderhede op die onderskeie departemente se databasisse op datum hou nie en ongeldige fakture wat uitgereik is.

Die ODK het reeds met die Gautengse tesourie kontak gemaak, wat belowe het om betalings vinniger af te handel.

  • Makhura het gister ná druktyd sy provinsiale rede gelewer.
Meer oor:  Gauteng  |  Diensverskaffers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.