Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Grafstene kry 'n eie bewaarplek

Een van die land se grootste en bes bewaarde versamelings van grafstene uit die Anglo-Boereoorlog gaan nou ’n veilige tuiste by die Irene-konsentrasiekamp se kampkerkhof kry.

“Die 573 historiese leiklipgrafstene word die laaste paar jaar in ’n skeepsvraghouer geberg om te voorkom dat dit in die wind en weer vergaan of wegraak,” sê Rentia Landman, voorsitter van die Centurion Erfenisvereniging.

Landman sê dit is noodsaaklik dat dié historiese erfenis onder beter omstandighede bewaar en uitgestal word. “Die Centurion Erfenisvereniging het dus die inisiatief geneem met ’n projek om ’n veilige uitstalruimte vir die grafstene tot stand te bring.”

Meer as 2 000 mense het destyds in die Irene-konsentrasiekamp gesterf, waarvan 1 041 kinders onder die ouderdom van 16.

Een van die leiklipgrafstene met plant- en dieremotiewe op.

In Oktober 1900 het die getal vlugtelinge in Pretoria te veel geraak om te hanteer en ’n vlugtelingekamp is in Irene gevestig aan die noordekant van die Hennopsrivier. Dié kamp het spoedig uitgebrei in ’n noordelike rigting tot waar die kampkerkhof vandag nog is. Daar was in dié stadium sowat 4 500 mense in die kamp. In November 1900 is die Irene-konsentrasiekamp amptelik geopen.

Die omstandighede in dié konsentrasiekamp was haglik. “Daar was nie genoeg brandhout om mee vuur te maak nie. Die kos was te min en seep was nie deel van die weeklikse rantsoene nie,” sê Landman.

Kerse is slegs aan ma’s uitgedeel wat siek of sterwende kinders gehad het. Slegs een uit elke vier kampbewoners het ’n bed gehad en die res het op die grond geslaap. “Met die vredesluiting was daar 5 641 siele in die Irene-konsentrasiekamp. Teen die einde van Januarie 1903 was daar nog 197 weduwees en ander haweloses in die kamp. Die kamp het op 7 Februarie 1903 ophou bestaan,” sê Landman.

Sy sê die grafstene wat oorgebly het in die kampkerkhof is van besonderse kultuurhistoriese belang.

“Die motiewe op die grafsteentjies is boerekuns. Daar is onder meer motiewe van sirkelblomme, harte, sterre, duiwe, plante en die lewensboom op.”

Die grafstene word reeds 20 jaar in ’n skeepsvraghouer gehou nadat dit vir bykans 100 jaar aan ’n muur gehang het waar dit aan die weer blootgestel was.

“Leiklip is bros en moet nie aan skerp wisseling van temperatuur of vog blootgestel word nie. In die winter hang die stukke ys in die staalhouer,” sê Landman.

Meer as 500 van dié grafstene, wat tans in ’n skeepsvraghouer gehou word, sal binnekort in ’n veilige uitstalruimte in die Irene-kampkerkhof bewaar word.

Volgens Landman is daar al in 2004 ’n versoekskrif gerig aan die Tshwane-metro om ’n uitstalruimte te bou, maar daar was nie ’n begroting daarvoor nie.

Nou het Dries Verbeek, direkteur van Neo Dimensions, ’n argiteksfirma, gratis planne opgestel vir ’n gebou waarin die grafstene veilig uitgestal kan word.

“Sonpanele sal die lugreëling verskaf want die stene moet vir bewaring beskerm word teen uitermatige koue of hitte. Natuurlike lig sal gebruik word om die skade van sonlig aan die stene te skakel. Daar sal ’n elektroniese skerm wees waarop mense ’n naam kan druk waarop die besonderhede van die oorledene sal verskyn, soos die plaas waar die mens vandaan kom,” sê Landman.

Die projek gaan sowat R5 miljoen kos. Volgens Landman sal die projek vanuit die burgerlike samelewing gefinansier word. Landman sê toestemming moet nog by die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap verkry word. “ ’n Erfenisimpakstudie moet nog gedoen word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.