Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Grotes praat saam op Tuks-sakeontbyt

Die Tuks-rugbyklub se eerste sake-ontbyt Donderdag by die Universiteit van Pretoria se hoëprestasiesentrum op die Hillcrest-sportkampus het met die amptelike opening van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan saamgeval.

Heel gepas het die drie paneellede wat oor hul dae in die Groen-en-Goud vertel het, almal aan vorige Wêreldbekertoernooie deelgeneem.

Richard Bands (middel) was een van drie voormalige Springbokke wat aan Wêreldbeker-toernooie deelgeneem het wat aan TuksRugby se sake-ontbyt deelgeneem het. Links van Bands is Gary Botha en regs Krynauw Otto.

Die stut Richard Bands se skouspelagtige drie teen die All Blacks in 2003 in ’n Drienasiestoets in Dunedin, ook bekend as die “House of Pain”, is vroeg in die bespreking te berde gebring. Kenners is dit eens dat dié drie een van die bestes is wat nog ooit deur ’n stut in toetsrugby gedruk is.

“Ek let op dat dit die afgelope paar dae op sosiale media gegons het oor die videogreep van my drie in Dunedin. Elke keer as ek weer daarna kyk, is ek opnuut dankbaar oor die geleenthede wat rugby my as speler gebied het en die blootstelling wat die spel my nou as skrumafrigter gee.

“Julle sal my nou nie glo nie, maar as speler was ek baie vinnig oor die eerste tien meter en het ek hierin baie goed getoets by die Bokke.”

Die 50 m wat hy in Dunedin vir sy drie moes hardloop, was egter ’n reuse-uitdaging omdat hy ook nog oor die All Black-losskakel Carlos Spencer moes hardloop om by die doellyn te kom.

“Mense spot immers daarmee dat die enigste verskille tussen ’n stut wat voluit hardloop en nie, is die uitdrukkings op hul gesigte en hoeveel meer kere hulle die kop knik”.

Oor die Springbokke se kanse by die Wêreldbeker-toernooi het Bands die gebrek aan kontinuïteit met hoofafrigters as die nasionale span se grootste bedreiging beskou.

“Ons moet só beplan dat die hoofafrigter van die Bokke ten minste sewe jaar het om die span vir die Wêreldbeker-toernooi te slyp. Hierin kan ons by die All Blacks gaan leer wat deurlopend suksesvol is omdat hulle langer in hul hoofafrigters belê.”

Banks wil uiteraard hê die Bokke moet die Wêreldbeker-toernooi wen, maar is al te lank by rugby betrokke om nie ook aan die All Blacks, Engeland en selfs Ierland as baie sterk aanspraakmakers op die kroon te dink nie.

Die ander oud-Springbokke wat aan die paneelbespreking voor die gehoor van sowat 80 gaste deelgeneem het, was Gary Botha, lid van die Wêreldbeker-kampioenspan in 2007, en Krynauw Otto, wat aan die toernooi van 1995 deelgeneem het toe Suid-Afrika die eerste keer die gesogte Webb Ellis-trofee omhoog gehou het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.