Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Harde werk die wenresep

Harde werk en omgee is die bestanddele in die Hoërskool Garsfontein se resep vir sukses.

Dié skool in die ooste van Pretoria is onlangs aangewys as die skool wat die beste presteer het in Gauteng in verlede jaar se matriekuitslae.

“Ons is ook nommer een in die provinsie as dit kom by leerlinge wat matriek geslaag het met toegang tot graadstudie,” sê Leon Bantjes (59), skoolhoof, verlede week uit sy kantoor.

Uit die 367 matrieks wat geslaag het, het 359 leerlinge punte verwerf wat goed genoeg is om vir tersiêre opleiding aansoek te doen by ’n universiteit.

Leon Bantjes, skoolhoof van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria. Foto: ANDREA KÜSEL

Dié groep Garsies het altesame 798 onderskeidings in die eindeksamen verwerf wat neerkom op sowat 2,15 onderskeidings per leerling.

“Dit is ongelooflike harde werk wat in só ’n prestasie ingaan. Dit kom nie net vanself nie. Harde werk en die toegewydheid van bekwame onderwysers help ons om dié sukses te behaal,” sê Bantjes.

Hy is vir die afgelope sewe jaar die hoof van die Hoërskool Garsfontein nadat hy vir 14 jaar lank die hoof van die Hoërskool Lichtenburg was.

Volgens Bantjes is omgee ’n belangrike deel van ’n suksesvolle skool.

Hy sê dit is nie ’n opoffering vir onderwysers om ná skoolure of oor naweke ekstra klasse aan te bied nie.

“Daar is selfs klasse aangebied gedurende eksamentyd en die oggend voor spesifieke eksamenvraestelle.”

Bantjes sê dit is ook belangrik dat leerlinge dan self deelneem en hard werk.

Leon Bantjes, skoolhoof van die Hoërskool Garsfontein, en Hilda Kekana, direkteur van die Tshwane-Suid-onderwysdistrik.Foto: ANDREA KÜSEL

“Hulle weet hulle moet ’n kwalifikasie kry vir ’n goeie toekoms in Suid-Afrika en vir hulself.”

Sy raad aan skoolhoofde van skole wat dalk nie so goed presteer nie, is om reeds aan leerlinge in gr. 8 akademiese ondersteuning te gee.

“ ’n Matriekslaagsyfer begin nie in matriek nie. Jy moet akademie reeds van gr. 8 af bestuur. By ons skool is daar graadhoofde wat die paadjie met kinders vanaf die begin van hul hoërskoolloopbaan stap tot en met die einde,” sê Bantjes.

Hy sê dit is belangrik om elke kind en hul omstandighede te ken en om te weet watter potensiaal hulle het.

Volgens Bantjes is dit ook belangrik om onderwysers te motiveer.

“Die groot taak van ’n skoolhoof is om werkstevredenheid te skep vir sy onderwysers. As jou onderwysers tevrede is by die skool is hulle ook gemotiveerd en dié motivering syfer ook dan deur na die leerlinge.”

Bantjes sê dit is tans moeilik vir sommige skole om onderwysers te vind wat werklik kenners is in hul vak, veral in velde soos wiskunde, wetenskap en rekeningkunde.

“Jy kan nie die resultate kry as daar nie ’n bekwame onderwyser is om die vak aan te bied nie. Om die onderwysstelsel te versterk kort ons goeie onderwysers.”

Hilda Kekana, direkteur van die Tshwane-Suid-onderwysdistrik, het Bantjes en sy skool verlede week gelukgewens met hul prestasie.

Tshwane-Suid is ook aangewys as die beste distrik in die land met ’n slaagsyfer van 93,3% onder sy 320 skole. Dié distrik is die grootste in Gauteng en sluit skole in onder meer die ooste en weste van Pretoria, Mamelodi, Eersterust en Laudium in.

Meer oor:  Hoërskool Garsfontein  |  Pretoria  |  Gauteng  |  Matriekuitslae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.