Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Hondegevegte neem toe

Geld is nie die grootste motivering vir hondegevegte nie. Altans nie in Suid-Afrika nie.

Zora, voorheen Adina, is onlangs by die DBV in Pretoria afgelaai en is vermoedelik vir hondegevegte aangewend. Sy het intussen ’n nuwe liefdevolle huis gekry.

Hier is die vermaaklikheidsaspek en die bloeddorstigheid wat met die gevegte gepaard gaan die groot trekpleister.

En boonop neem gevegte landwyd toe, sê Nadia Hansa van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se spesiale ondersoekeenheid in Alberton.

“Daar is ál meer en meer hondegevegte wat oor die land heen aangebied word,” sê Hansa.

“Dit word vooraf beplan en vorm deel van georganiseerde misdaad.

“Vervolging is die beste manier om hierdie vorm van misdaad te bekamp.”

Hansa sê gevegte is nie tot spesifieke omgewings beperk nie. Dit vind in die armste tot die mees gegoede woonbuurte en oor alle rassegroepe heen plaas.

Pitbull-terriërs word meestal vir gevegte verkies, maar ander rasse, insluitend Staffordshire-terriërs is ook gewild.

Daar is verskeie aanduidings dat ’n hond vir gevegte gebruik word. (Lees die kassie hiernaas.)

Hane word ook van tyd tot tyd vir gevegte gebruik en ’n geval is selfs aangemeld waar honde wildevarke moes aanval.

Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing mag diere nie vir gevegsdoeleindes aangehou word nie. Voorts mag ’n dier nie aangehits word om ’n ander dier aan te val nie.

Enigiemand wat sy eiendom beskikbaar maak vir gevegte of selfs iemand wat na gevegte kyk, pleeg ’n misdaad. Iemand wat skuldig bevind word, kan tronkstraf en/of ’n boete opgelê word.

Sekere polisie-eenhede is daarop toegespits om misdadigers wat by hondegevegte betrokke is, te vang.

Volgens Hansa word die meeste misdadigers reguit tronk toe gestuur en is die persentasie wat gevonnis word baie hoog.

Balassie, voorheen Blacky, was ook voorheen by hondegevegte betrokke.

Die spesiale ondersoekeenheid het oor die afgelope vier jaar 50 misdadigers vir hondegevegte gevonnis gekry.

By die DBV in Pretoria is twee honde onlangs afgelaai wat vermoedelik by hondegevegte betrokke was.

“Ons het Adina en Blacky onlangs ingeneem. Albei is pitbulls en agt maande oud,” sê Elsa Daniels, woordvoerder van die DBV in Pretoria.

“Daar is tekens dat hulle vir gevegte gebruik is. Adina het ook ’n velprobleem gehad wat waarskynlik aan wanvoeding te wyte was.

“Albei is nou gesond en het reeds liefdevolle huise gekry.”

Volgens Hansa gaan hondegevegte dikwels hand aan hand met ander misdade. Geweld teenoor vroue en kinders kom ook voor.

“Hondegevegte is wêreldwyd ’n goeie aanduider dat geweld teenoor mense sal volg,” sê sy.

“Die negatiewe uitwerking van hierdie misdaad is veral erg vir kinders wat gereeld daaraan blootgestel word. Omdat hulle dit so gereeld sien, verminder hul empatie stelselmatig.”

  • Skakel 011 907 3590 of stuur ’n e-pos na specialinvestigations@ nspca om gevegte aan te meld.Jou identiteit sal beskerm word.
Meer oor:  Dbv  |  Alberton  |  Dieremishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.