Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Johannesburg-metro het net vyf brandweerwaens

Daar is 35 brandweerstasies in Johannesburg, maar net vyf volwaardige, werkende brandweerwaens, het Geoff Makhubo, burgemeester van Johannesburg, verlede week in ’n mediakonferensie oor dienslewering gesê.

Die DA-koalisieregering wat tot Desember verlede jaar aan bewind was, het al verlede jaar ’n interdik bekom teen ’n diensverskaffer wat van ongerymdhede verdink word. Die verskaffer was veronderstel om die getalle aan te vul.

Kate Lorimer, DA-woordvoerder in Gauteng oor menslike nedersettings, sê toe die DA in 2016 met ’n koalisieregering in Johannesburg by die ANC oorgeneem het, was die vloot brandweervoertuie reeds verouderd, stukkend of al maande in werkswinkels waar herstelwerk nooit voltooi is nie.

Sy sê die DA het ’n ondersoek van stapel gestuur om agter die kap van die byl te probeer kom.

“Die onderneming wat die vorige ANC-regering aangestel het om brandbestrydingsvoertuie te verskaf het onder aantygings van korrupsie gebuk gegaan wat ons genoop het om hul kontrak van R161 miljoen te kanselleer,” sê sy.

“ ’n Vervangingsprogram is van stapel gestuur met tien nuwe brandweervoertuie wat verlede jaar in gebruik geneem is. In totaal was daar ’n bestelling vir 92 voertuie.”

Die tien voertuie wat Lorimer noem, was egter nie volwaardige brandweerwaens nie en is net geskik om kleiner brande te bestry. Die gevolg is dat daar verskeie brandweerstasies in Johannesburg is wat onderling voertuie moet uitleen om dienste te lewer.

“Sonder brandweerwaens bly behoorlike opleiding ook in die slag en kan brandweerwaterpunte nie getoets word nie,” sê Lorimer. “Daar is ook al hoe meer onwettige elektriese aansluitings in informele nedersettings wat die risiko dat brande uitbreek, ál hoër maak.

“Dis noodsaaklik dat die nuwe ANC-regering in Johannesburg die aankoop van nuwe brandweerwaens so spoedig moontlik afhandel.”

Geoffrey Makhubo (Nelius Rademan/Foto24 Gauteng)
Geoffrey Makhubo. Foto: Nelius Rademan

Makhubo het erken dat daar uitdagings met nooddienste is.

“Daar is verskeie uitdagings wat nooddienste aanbetref, maar ons het genoeg menslike hulpbronne om dienste te lewer,” sê hy.

“Daar is 19 brandweervoertuie gedurende die vorige administrasie se tyd in beheer aan die metro verskaf, maar dit is nie geskik vir die doel waarvoor dit bekom is nie. ’n Verdere R350 miljoen is nou nodig om geskikte brandweerwaens te bekom om nooddienste sodanig aan te vul om enige potensiële noodgevalle te kan hanteer.

“Die vorige administrasie se korrupsie en wanbestuur het die stad op die randjie van ineenstorting gelos.”

Herman Mashaba, die vorige burgemeester van Johannesburg en stigter van The People’s Dialogue, sê Makhubo se aantygings teen sy administrasie is verregaande.

“Makhubo het van die oomblik toe ons in 2016 oorgeneem het, voorspel dat die stad op enige gegewe maand nie salarisse sou kan betaal nie, maar dit het nooit gebeur nie,” sê Mashaba. “Inteendeel het die metro se kontantreserwes van die 2017-’18- tot 2018-’19-boekjaar meer as verdubbel.

“Die blote feit dat Makhubo burgemeester is en nie 15 jaar tronkstraf uitdien nie, bewys dat die regstelsel nie werk nie.

“Sy betrokkenheid by Gupta-ondernemings wat hom miljoene rande in die sak gebring het, is alombekend.”

Makhubo het verlede week ook aangekondig dat sy administrasie ’n projek van stapel gestuur het om Johannesburg skoon te maak en dat meer as 2 000 slaggate herstel sal word.

Meer oor:  Johannesburg-Metro  |  Geoff Makhubo  |  Gauteng  |  Vyf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.