Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Krieketheld se ster skyn helder in Indië

Ruan van der Westhuizen (17), ’n gr. 12-leerling by Helpmekaar Kollege, Johannesburg, het nog nie vir sy skool se eerste krieketspan gespeel nie, maar dit het hom nie gekeer om op die skool se toer in Indië uit te blink nie.

Die span het vyf amptelike wedstryde teen plaaslike spanne gespeel. Ruan het in vier van die wedstryde gespeel en is in twee as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Ruan van der Westhuizen was Helpmekaar Kollege se onwaarskynlike held toe hul krieketspan in Indië getoer het. Hy is in twee wedstryde as Speler van die Wedstryd aangewys. Foto: Marthinus Koekemoer

Hy beskryf sy kolfstyl as iemand wat die telbord aan die beweeg hou, maar nie juis as iemand wat groot houe speel nie. Dit het hom nie gekeer om in een wedstryd 92 lopies van net 38 balle aan te teken nie. Sy kolfbeurt het 19 grenshoue ingesluit.

In ’n ander wedstryd het hy meer gekolf soos hy altyd kolf en 25 lopies van 25 balle aangeteken. Dis niks besonders in ’n T20-wedstryd nie, maar Ruan het ook drie paaltjies platgetrek. Weer eens klink dit nie buitengewoon nie tot ’n mens hoor hy is eintlik ’n paaltjiewagter.

Ruan van der Westhuizen. Foto: Marthinus Koekemoer

“Daar was ’n hele paar paaltjiewagters saam op die toer en ons het beurte geneem om agter die paaltjies te staan en dis hoekom ek ook ’n kans gekry het om te boul,” sê hy.

Ruan is ’n wegbreekbouler wat ’n groot verskeidenheid van balle kan afstuur. Hy meen hy boul soos ’n regshandige Keshav Maharaj sou. Sy gunsteling-speler is Quinton de Kock en sy gunsteling-houe die trek- en dekpuntdryfhou.

Volgens Ruan is fiksheid en ’n passie vir die sport van kardinale belang om te presteer. Hy is ’n ywerige muurbal-speler en neem aan avontuursport deel. Laasgenoemde is ’n vorm van driekamp waar daar bergfiets gery word, in ’n dam geswem word en ’n tipe landloop gehardloop word. Hy was deel van die span wat die junior afdeling van die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in 2017 gewen het. ’n Jaar later was hulle derde.

Ruan het baie hoop vir die Proteas in die T20-Wêreldbeker wat later vanjaar in Australië gespeel word, maar is ook realisties oor hoe hulle gaan vaar.

Ruan van der Westhuizen. Foto: Marthinus Koekemoer

“Ons het ’n jong span met baie potensiaal,” sê hy. “Ek dink hulle sal goed vaar, maar sal nie die kompetisie wen nie. Ek dink die Proteas gaan in die halfeindstryd verloor.”

Ruan beplan om volgende jaar BCom-regte aan die Puk te gaan swot. Hy sê hy hou daarvan om met mense te werk, te argumenteer en ander mense se opinies te hoor.

Ruan sê hul span is orals in Indië soos helde ontvang en dat daar sommer in van die kleiner dorpies informele wedstryde met plaaslike inwoners uitgebreek het.

“Die toer in Indië was ’n avontuur, maar ons het ook met baie armoede te doen gekry wat ’n mens opnuut dankbaar maak vir wat jy het,” sê Ruan. “Ek wil volgende jaar op universiteit aanhou krieket speel en hopelik sien een van die franchises my raak en gee my ’n kans om vir hulle te speel.”

Meer oor:  Helpmekaar Kollege  |  Johannesburg  |  Skool  |  Indië  |  Krieketspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.