Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Krygsgevangenis was sonder weerga
Italiaanse krygsgevangenes by Zonderwater voer Die graaf van Luxemburgvan Franz Lehár op. Die spelers is net die krygsgevangenes! Suid-Afrikaanse Krygshistoriese Tydskrif, Desember 1967.

’n Minder bekende verhaal is die sowat 90 000 Italiaanse krygsgevangenes wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika aangehou is, waarvan verreweg die meeste by Zonderwater, sowat 40 km noordoos van Pretoria was.

In April 1941 het die eerste krygsgevangenes van Noord- en Oos-Afrika by Zonderwater aangekom. Te midde van aanvanklike chaos is hulle in tente aangehou. Vroeg in 1943 is kol. H.F. Prinsloo in beheer van die kamp geplaas. Onmiddellik het toestande dramaties verbeter. Prinsloo het as kind die ellende van die Barbertonse konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog ervaar, en was besonder simpatiekgesind teenoor die krygsgevangenes.

Prinsloo het die krygsgevangenes hul eie barakke van bakstene met sinkplaatdakke laat bou. Die kamp is in 14 blokke verdeel, met elke blok onderverdeel in vier kampe. Dit is met dubbele rye doringdraad omhein, met uitkyktorings vir wagte. Elke blok was ’n selfstandige eenheid met sy eie administratiewe offisier, mediese ondersoekkamer, sportveld en teater. Elke kamp in elke blok het sy eie kombuis en ablusiegeriewe gehad.

Skep eie Italiaanse dorpie

’n Solidariteit het onder die krygsgevangenes van elke blok ontwikkel. Hulle het tuintjies om hul hutte gemaak, standbeeldjies opgerig en fonteine gebou, sodat dit die karakter van ’n Italiaanse dorpie aangeneem het.

Die higiëne was onbesproke, sodat die algemene gesondheid van die inwoners verstommend goed was. Daar was die uitstaande sindelikheid van die kombuise, latrines, storte en woonhutte, die inenting teen siektes, en die suiwering van drinkwater.

Krygsgevangenes het ’n gebalanseerde dieet ontvang. Met hul maandelikse soldy kon hulle dit aanvul in die goed toegeruste kantiens.

Die Britse War Office het Zonderwater uitgesonder as die kamp met die beste krygsgevangene-hospitaal in die Britse ryk. Die lae voorkoms van aansteeklike siektes was merkwaardig.

In elke blok was daar twee mediese ondersoekkamers. Ernstige gevalle is na die hospitaal met sy 3 000 beddens gestuur, waar Suid-Afrikaanse en Italiaanse dokters hulle behandel het. Daar was operasiesale, en X-straal-, oog-, gastro-enterologiese, patologiese, bakteriologiese en tandarts-afdelings en meer. Die Internasionale Rooi Kruis het gunstige verslae oor die algemene situasie ingedien.

Geestelike behoeftes

Rooms-Katolieke geestelikes wat medekrygsgevangenes was, het vir die geestelike behoeftes gesorg.

In skole in die kamp is talle ongeletterde krygsgevangenes in Italiaans leer lees en skryf, terwyl ander ambagte geleer het. Die biblioteek het meer as 10 000 boeke gehuisves.

Teaters is opgerig, en blaas- en simfonieorkeste het tot stand gekom, aanvanklik met musiekinstrumente wat self vervaardig is, maar later kon instrumente aangekoop word. Operas, toneelstukke en konserte is op- of uitgevoer, en die kostuums is uit eenvoudige materiaal opgetower.

Sportfasiliteite is voorsien vir sokker (met aggressiewe inter­blok­wedstryde), tennis, vlugbal, rolbal, boks, stoei en skerm.

Gesonde liggaam en gees

Alles moontlik is gedoen om die krygsgevangenes na liggaam en gees gesond te hou.

Suid-Afrika spog met talle indrukwekkende bergpasse, brûe en huise wat deur Italiaanse krygsgevangenes gebou is.

Maar toe die krygsgevangenes in Januarie 1947 huis toe is, het 252 van hulle in grafte by Zonderwater agtergebly.

Sommige krygsgevangenes het hier ’n nuwe lewe begin. Edoardo Villa het ’n beroemde beeldhouer geword, Gregorio Fiasconaro professor in musiek, en sy seun Marcello het in 1973 ’n wêreldrekord in die 800 m opgestel. Blywende nalatenskappe.

Meer oor:  Geskiedenis  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.