Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Lee Scott se nuwe enkelsnit uitgereik

Waar woon jy?

Ek woon in Pretoria.

Waar is jy gebore, het jy grootgeword, skool gegaan ens.?

Ek is gebore in Pretoria en ek het in Wonderboom-Suid grootgeword. Ek was in die Laerskool Boerefort en later in die Hoërskool Wonderboom.

Lee Scott het pas sy nuwe enkelsnit, “Vry”, bekend gestel.

Wat is jou eerste musiekherinneringe?

Ek was in gr. 5 gewees en ons het die middag revue-oefening gehad. Daai middag was daar ’n oudisie vir iemand om ’n sololiedjie in die revue te sing. My suster het gesê ek moet my hand opsteek en haar raad was dat ek lekker hard moet sing.

Ek het “My pa is die koning” gesing en ek kan onthou hoe senuweeagtig ek was die eerste aand op die verhoog. Dit was die beste gevoel ooit. En dis waar die gogga my gebyt het.

Hoe het jy begin musiek maak?

Ek het eers ná skool professioneel begin sing toe ek deel geraak het van ’n Afrikaanse boyband genaamd HI-5. Ek het musiekteater by die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie gaan swot en aan die ATKV-sangkompetisie deelgeneem. Dis hier waar ek uitgenooi is om van HI-5 ’n lid te word. Dit was in 2006.

Watter instrumente speel jy?

Ek speel klavier, maar glad nie so goed soos wat ek eintlik wil nie.

Vir die oningeligte, beskryf jou musiek.

Ek beskryf my musiek as Afrikaans pop-kontemporêr met ’n kommersiële aanslag.

Is daar een van jou liedjies wat jou gunsteling is? Watter een en hoe-kom?

Daar is twee. “Perfekte vreemdeling” en my nuwe liedjie “Vry”. Albei liedjies het ek gehelp skryf. Daar is iets besonders aan jou eie werk wat baie meer eg is aan jou as mens en kunstenaar as iets wat jy sing wat deur iemand anders geskryf is. So dis makliker vir my om emosie te koppel aan my eie liedjies.

As jy die verhoog met enigiemand kan deel, wie sal jy kies en hoekom?

Beslis met Adele. Sy is net so eg. Sy gee nie voor dat sy iets of iemand anders is nie. Haar musiek is uniek en inspirerend op ’n klomp vlakke.

Is daar enige plek waar jy al opgetree het wat baie besonders was?

Ek het al ’n paar keer in die Seychelle vir ’n sjeik gaan sing, wat besonder lekker was.

Waar sal jy nog wil optree?

Dis ’n droom om eendag met ’n vol simfonieorkes in die Royal Albert Hall op te tree.

Waar tree jy op in Gauteng oor die volgende paar maande?

Ek en Leah is 30 Oktober by Die Blou Hond in Pretoria.

Wat is jou raad aan nuwe opkomende kunstenaars?

Gebruik elke geleentheid waar jy kan om te sing. Jy weet nooit wie in die gehoor sit en luister nie.

Vertel ons van die nuwe enkelsnit.

“Vry” het ek geskryf eintlik aan myself en dit wat my as mens terughou. Ek sukkel nog altyd met angs. My angs het omgesit in depressie en dit het my teruggehou om ’n goeie lewe te leef, maar so oor die jare het ek geleer hoe om my angs te beheer. Ek stop en haal net asem.

Dis vir my verskriklik belangrik om elke dag die mooi en eenvoud in te neem. Die lewe is altyd ’n gejaag en dit veroorsaak dat ons soms die fyner dinge in die lewe mis kyk.

Die lied is geskryf om mense te inspireer om beter te leef en dit wat hulle geestelik, fisies en emosioneel terughou te laat gaan.

Ek het die liedjie saam met Hugo Ludik geskryf.

Meer oor:  Musiek  |  Enkelsnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.