Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Man van Centurion kry gesogte beurs in die VSA

Chris Dreyer (35) van Centurion vertrek eersdaags na die VSA om as ’n wenner van die gesogte Fulbright-beurs in New York te studeer.

Chris Dreyer van Centurion vertrek aan die einde van die maand na die VSA waar hy in New York by Parsons sal studeer met die gesogte Fulbright-beurs.

“Ek het by ’n kollega van die Fulbright-beurs gehoor en verlede jaar besluit om aansoek te doen,” sê Dreyer, ’n strukturele ingenieur by Denel.

“Daar is nogal ’n paar stappe om te voltooi en die proses het meer as ’n jaar gevat voordat ek die beurs gekry het. Die Amerikaanse ambassade het egter baie gehelp en het selfs klasse aangebied wat my help voorberei het.”

Ongeveer 4 000 buitelandse studente kry jaarliks die geleentheid om op die gesogte Fulbright-beurs in die VSA te studeer. Dreyer is een van net drie Pretorianers wat vanjaar gekies is. In die hele Suid-Afrika is daar elke jaar 20 studente wat ’n Fulbright-beurs kry.

J. William Fulbright, ’n voormalige senator, het die Fulbright-program in 1946 begin om samewerking tussen die VSA en ander lande te bevorder.

Dreyer is in Bloemfontein gebore en het daar skoolgegaan. Hy het in 2005 ’n graad in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Daarna het hy ’n meestersgraad in dieselfde veld aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi voordat hy by Denel begin werk het.

“Ek dink dis belangrik dat ons kennis deel, maar ook dat dit op ’n interessante wyse oorgedra word om só belangstelling te prikkel,” sê Dreyer.

“Ek besef ek kan nie die hele wêreld verander nie. Ek kan wel in my omgewing ’n verskil maak en hopelik kring dit verder uit.”

Dreyer is besig om aan ’n kennisoordragmodel te werk waarmee hy hoop om ’n beter verstandhouding tussen mense van verskillende wêrelddele en kulture te kweek.

Dreyer sal oriëntering in Reno, Navada, bywoon voordat hy na New York sal verskuif om daar by Parsons se The New School in te val.

“Ek sien daarna uit om my kennis uit te brei en myself in uitdagende ekonomiese tye relevant te hou,” sê Dreyer, wat al voorheen in New York was.

“ ’n Besoek aan die groot stad kom met uitdagings, maar ek is gelukkig dat ek naby Central Park gaan bly en darem ’n bietjie groenigheid sal sien.”

Dreyer ry graag motorfiets en hy het al op laerskool leer kitaar speel. Hy en ’n vriend het al drie van hul eie liedjies opgeneem. Sy ander groot liefdes is fotografie en om modelle van vliegtuie, karre en dies meer te bou.

Dreyer sal vir ’n jaar in die VSA studeer voordat hy na Suid-Afrika en sy werk by Denel terugkeer.

“In die VSA sal ek ’n ambassadeur vir Suid-Afrika wees en ek wil die mense daar van ons land leer,” sê Dreyer. “Ek wil in die VSA ’n netwerk van kontakte opbou wat met my tuiskoms met projekte in Suid-Afrika kan help. Ek wil ook graag die mentorskapprogram by Denel verder uitbou.”

Meer oor:  New York  |  Centurion  |  Beurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.