Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Meisie-stoeier droom van Spele

Noem enige sport en die kans is goed dat die 11-jarige Chloe Brewis van die Laerskool Voorpos in Pretoria daarin sal uitblink. As sy egter kan kies, sal dit wees om ’n teenstander op die stoeimatte vas te pen.

Dit is alles eintlik Chloe se pa, Morné, se “skuld”.

“Ek het weer begin stoei om fiks te bly. Chloe het uit nuuskierigheid saamgegaan. Toe ek weer sien, is sy ook aan die stoei.

“Dit is ’n harde sport en ek sou nooit kon raai dat sy so iets sou wou aanpak nie, maar tye het verander. Dit sal nie reg wees om ’n meisie te weerhou om iets te doen waarvoor sy lief is nie.

“Ek wil nooit hê dat Chloe vir enigiemand moet terugstaan omdat sy ’n meisie is nie.”

Chloe Brewis se geesdrif vir stoei is onblusbaar. Sy is so gretig om teen goeie teenstanders deel te neem dat sy sommer die seuns ook aanvat. Foto: REG CALDECOTT

Daardie paar minute wat ’n geveg duur, is wat Chloe se adrenalienvlakke opjaag.

Geen stoeigeveg gaan ooit net oor brute krag nie. Jy moet die hele tyd dink. ’n Goeie stoeier weet vir elke aksie is daar ’n teenreaksie. Die ideaal is daarom om altyd soort van klaar ’n Plan B in jou agterkop te hê.

Chloe is skynbaar goed daarmee, want die afgelope paar jaar het sy al verskeie goue medaljes op Suid-Afrikaanse toernooie in haar afdeling verower.

’n Besliste hoogtepunt was vroeër vanjaar toe sy in Estland ’n goue medalje gekry het.

Ongelukkig het stoei as ’n vrouesport nog nie werklik in Suid-Afrika posgevat nie. Dit is frustrerend as jy soos Chloe passievol is.

Vir haar is dit amper ’n geval van fiks en gemotiveerd en niemand om teen te stoei nie. Daarom het sy besluit om teen die seuns te begin deelneem.

Met tye gaan dit rof. Sy het al ’n slag haar neus gedurende ’n toernooi gebreek. Opgee sal egter nooit ’n opsie vir haar wees nie. Sy het daarna aan nog twee gevegte deelgeneem. Haar leuse is wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker.

En ja, sy wen teen die seuns. Dit het al tot trane gelei, want die manlike ego kan soms mos maar broos wees.

Dinge het verander. Die seuns besef nou Chloe is nes hulle passievol oor stoei, en dat sy op enige dag net so hard soos hulle oefen en nooit gunste vra omdat sy ’n meisie is nie.

“Persoonlik dink ek stoei is ’n fantastiese sport vir kinders,” sê Morné.

“Deur oefening en deelname leer hulle besef waaroor dissipline en deursettingsvermoë gaan. Stoei het ook vir Chloe geleer om haarself te kan verdedig. Boelies dink beslis twee keer voordat hulle met ’n stoeier moeilikheid soek.”

Chloe maak geen geheim van wat haar droom is nie. Sy hoop om eendag by die Olimpiese Spele in aksie te wees. Haar onmiddellike doelwit is om oor vier jaar Suid-Afrika dalk by die Olimpiese Jeugspele te verteenwoordig.

Meer oor:  Pretoria  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.