Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Midvaal die volhoubaarste munisipaliteit

Ratings Afrika het onlangs sy munisipale finansiële volhoubaarheidsindeks vir die finansiële jaar wat in Junie 2019 geëindig het, bekend gemaak. Die 100 grootste munisipaliteite in die land is gemeet. In Gauteng het Midvaal die beste gevaar en Emfuleni die swakste.

Ses faktore word in ag geneem om ’n punt uit 100 toe te ken, onder meer operasionele sukses, begrotingsbeleid en infrastruktuurontwikkeling.

Ratings Afrika definieer finansiële volhoubaarheid as “die finansiële vermoë om dienste te lewer en infrastruktuur te onderhou en te ontwikkel sonder om onbeplande veranderings aan tariewe en belasting aan te bring of om die vlak van dienslewering te verlaag”.

“Voorts moet die munisipaliteit die vermoë hê om finansiële skokke wat deur die natuurlike, ekonomiese of politieke landskap veroorsaak word te absorbeer sonder om van eksterne hulp gebruik te maak.”

Sedert 2015 het die munisipaliteite in Gauteng van gemiddelde punt van 32 effens verswak, na 31.

In die res van land oor dieselfde periode het net die munisipaliteite in die Wes-Kaap effens verbeter. Hul telling was in 2015 56 en verlede jaar het dit na 59 geklim. Ander provinsies met beter punte as dié van Gauteng is KwaZulu-Natal met 41 en die Noord-Kaap met 35. Albei het egter van punte van meer as 50 in 2015 teruggesak.

Die lae punte wat oor die algemeen aangeteken is, kan volgens Ratings Afrika toegeskryf word aan swak finansiële bestuur en dissipline. Voorts meen Ratings Afrika dat enige munisipaliteit met ’n telling laer as 40 onvolhoubaar of selfs onfunksioneel is.

“Dit is duidelik dat hierdie munisipaliteite met hul verantwoordelikhede tekort geskiet het deur toe te laat dat hulle in ’n onvolhoubare finansiële situasie gesink het,” lui die verslag.

Munisipaliteite met goeie tellings het volgens Ratings Afrika goeie finansiële beleid en begrotings wat op sterk langtermyn- beplanning gegrond is.

Jaco Mulder
Jaco Mulder van die VF Plus. Foto: Argief

Jaco Mulder, VF Plus-leier in Gauteng, sê Ratings Afrika se indeks in ’n belangrike aanduiding van munisipaliteite se suksesvolle finansiële bestuur.

“Die ontleding strek oor ’n jaar en dit sal interessant wees om die Covid-19 inperking se gevolge volgende jaar waar te neem,” sê hy. “Dit is belangrik om te verstaan dat die ontleding van munisipaliteite aan ses maatstawwe van die geouditeerde finansiële state beoordeel word en nie aan die totale begroting nie.

“Midvaal het ook soos ander munisipaliteite sy tekortkominge en dit is jammer dat personeelaanstellings nie in geheel op meriete plaasvind nie, maar swart ekonomiese bemagtiging ’n bepalende faktor is. Die ontleding maak nie melding van die miljoene rande wat Midvaal-munisipaliteit betaal het vir laster- eise wat teen burgemeester Bongani Baloyi ingestel is asook groot bedrae wat bestee is aan raadslede se reistoelae nie.”

Die VF Plus meen dat meer munisipaliteite in Gauteng beter sou presteer het indien die DA meer doelgerig oor koalisieregering was en meer in die stryd gewerp het om Mogale City, die Tshwane-metro en die Johannesburg-metro uit die hande van die ANC te hou.

John Moodey

John Moodey, die DA se leier in Gauteng, meen egter Midvaal vaar goed. “Die DA geleide Midvaal het oor die afgelope vyf jaar goeie begrotingsbeleid, finansiële bestuur en inkomste-invordering gehad,” sê hy. Moodey meen ook Baloyi en sy span doen goeie werk.

Christo Smith, VF Plus-raadslid in Emfuleni, sê hierdie munisipaliteit se swak punt is glad nie verbasend nie.

“Die VF Plus is nie verbaas oor Ratings Afrika se aankondiging dat die Emfuleni die swaks presterende munisipaliteit in Gauteng is nie,” sê hy.

“Die voortgesette wanbestuur en onvolhoubaarheid van die munisipaliteit is egter kommerwekkend.

“Die munisipaliteit is op ’n afdraande trajek wat moeilik gestop kan word en belastingbetalers ervaar die gevolge daagliks met ou en stukkende infrastruktuur en dienslewering wat kwalik bestaan.

“Die ANC het ook hier deur sy wanbestuur bewys dat hy nie ’n munisipaliteit suksesvol kan bestuur nie en vervang moet word deur ’n koalisieregering wat die munisipaliteit met die nodige kundigheid en toewyding sal bestuur.”

Meer oor:  Ratings Afrika  |  Midvaal  |  Munisipaliteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.