Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Monumentale fietsrit op 77

Jakkie van der Colff (77), van Waverley, het Saterdag manalleen ’n fietsrit van nagenoeg 2 700 km aangepak – van die Voortrekkermonument tot by die Taalmonument in die Paarl.

As alles volgens plan verloop, eindig dié groot avontuur op 21 September.

“Ek is ’n depressielyer en in 2012 het ek ’n plek bereik waar ek net in die bed wou lê,” vertel Van der Colff.

“Ek het juis in die bed gelê toe ek op ’n radioprogram gehoor het dat ’n mens vir jouself uitdagings moet stel.

Jakkie van der Colff (77) het Saterdag sy fietsrit van die Voortrekkermonument na die Taalmonument in die Paarl begin.

“Ek het hieroor nagedink en gedink hoe ek vir myself ’n uitdaging kan stel wat bereikbaar is. Fiksheid was nog altyd vir my belangrik en ek het ook onthou hoe ek as kind van fietsry gehou het.

“Só het ek besluit om per fiets van Pretoria na Kaapstad te ry.”

Van der Colff het die rit vir die eerste keer in 2013 aangepak. Hy was toe 71 jaar oud en het die uitdaging nog moeiliker gemaak deur homself tot 71 ure op die pad te beperk.

“Ek was eintlik swak voorbereid,” sê hy.

“Ek het net een fietsrybroek gehad en ek het nie behoorlik vir kos op die pad beplan nie. In die oggende het ek baie geëet en weer in die aand, maar deur die dag het my tenk by tye omtrent heeltemal leeggeloop.”

Maar Van der Colff is nie een om maklik tou op te gooi nie en het Kaapstad uiteindelik binne sy eie spertyd bereik.

“Nadat ek klaar was, was my vraag aan myself ‘wat nou?’

“In 2014 het ek ’n rit reg rondom die land aangepak. Ek het in Kaapstad begin en kuslangs oos gery. Ek het die geleentheid gebruik om by vriende te kuier.

“Alhoewel ek ’n slaapsak ingepak het, het ek dit nie een keer nodig gehad nie. Soos mense van my gehoor het, het hulle hul vriende laat weet en op omtrent elke dorp het iemand my ontvang. In enkele gevalle het ek in gastehuise oornag.”

Van der Colff het vir vanjaar se rit ’n spesiale fiets laat bou. Dis egter redelik standaard met die uitsondering van die sakke wat hy agter oor die rakkie gooi om sy bagasie op te laai en ’n spieëltjie wat hy aan die regterkantse handvatsel installeer het.

“Die spieëltjie lyk dalk vreemd, maar dit help regtig baie op die snelweë om te sien as iemand dalk te naby gaan verbysteek,” sê Van der Colff.

“Daar was ’n geval waar ’n vragmotor reguit op my afgepyl het en ek uit die pad kon kom omdat ek hom in die spieëltjie sien kom het.”

Van der Colff sê egter mense is hom gewoonlik baie goedgesind wanneer hy op sy fiets is. Hy ry amper elke dag fiets. Soms ry hy sommer met sy fiets gimnasium toe ook.

“Daar is nie druk of stres op my as ek op die pad is nie,” sê Van der Colff. “Dis net ek in my gedagtes.”

Van der Colff trap ten bate van die Voortrekkers en sal by verskeie van hul kommando’s aandoen. Sy vordering kan op die Voortrekkers se Facebook-blad gevolg word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.