Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Nataniël skryf oor sy kindertyd

Ná tien jaar se getorring van sy uitgewer het die skrywer en musikant Nataniël ingestem om ’n memoire te skryf.

Vir ’n dekade lank was sy verweer dat daar niks wás om oor te skryf nie. Hy is nog te jonk en “het die verveligste lewe denkbaar”. Maar toe stem hy in net om die uitgewer stil te maak.

Nataniël gesels tydens sy boekbekendstelling in Johannesburg. Foto: RETHA FICK

Hy het besluit hy sou skryf oor hy as kind in ’n wêreld wat geen sin maak nie. ’n Kind wat nie die planeet verstaan nie. En ook omdat daar kinders is soos hy en omdat daar ouers is wat kinders het soos hy en nie weet wat om met hulle te maak nie.

Hy sou oor sy kindertyd skryf, want sy kindertyd het hom gemaak wat hy vandag is, het hy besluit.

Nou, met die taak afgehandel, wil hy hê die hele wêreld moet die boek lees, het Nataniël Donderdagaand by die bekendstelling van Kyk na my by Exclusive Books in Hyde Park in Johannesburg gesê.

In tipiese Nataniël-styl het hy die gehoor by tye laat skater met sy spitsvondigheid, en, toe hy op ’n stadium hartseer raak, sou jy in ’n amperse heilige oomblik ’n speld kon hoor val.

Onder die sowat 70 gaste was glanspersoonlikhede soos onder andere die pianis Charl du Plessis en die aktrise Brümilda van Rensburg.

Die skryfproses was nie maklik nie, het hy aan die gehoor erken.

“Dit was een hele jaar van absolute ellende, twyfel, emosie. Ek het meer as ooit vantevore gehuil. Nie omdat die boek hartseer is nie, net omdat ek my hele lewe gedink het hoe baie my pa aan my gedoen het, en toe besef ek hoe baie ek aan hom gedoen het.

“En dan twyfel jy ook (oor die skrywery). Ek het net matriek. Ek gaan nie ’n toekenning kry nie. Dit is nie letterkunde nie. Maar dit is die waarheid.”

Die deurlopende temas van die boek is sy verwondering as kind oor die lewe, maar ook die nie-verstaan dat grootmense alles net aanvaar en niks bevraagteken nie. Dan is daar ook die “volledig ontwikkelde vrees” wat op ’n baie jong ouderdom in sy hart nesgeskop het.

Kyk na my en Look at meis nou in boek- winkels beskikbaar.

Nataniël sê die omslag het hy “gesien” terwyl hy geskryf het.

“Dit is glad nie in my styl nie en ek haat blou. Maar daar was net een manier hoe die omslag kon lyk. Ek het die woud gesien. En die maanlig wat ek as ’n kind geken het en hoe dit verander het. Dit is nou nog hoe ek beligting op die verhoog benader.”

Op die voorblad verskyn hy as klein seuntjie in ’n jas en ’n kroon op sy kop.

“Ek skryf oor my eerste konsert en my pa wat nie ’n foto neem nie. Ek het die jas vir drie dae gedra totdat hy die foto geneem het. Toe vind ek uit die jas bestaan nog.”

Oor die titel sê hy: “Die naam van die boek gaan daaroor dat vir die eerste sewe of agt jaar van my lewe niemand na my gekyk het nie. Oral waar ek geloop het, het mense hul koppe weggedraai,” het hy gesê terwyl hy merkbaar sukkel om sy emosies onder beheer te kry.

“Die boek eindig waar ek dit kon regkry dat iemand na my kyk – vir die eerste keer,”

Kyk na my is dus ook ’n boek van hoop.

“Ek het ontdek dat oomblikke vanuit die hemel van onverwagte plekke kom. Daar is geen trompetgeskal wanneer jy magic ontmoet nie. En daar is geen trompetgeskal wanneer die slegste van die slegste met jou gebeur nie.

“Dit is ’n wonderwerk dat ek nie dood is nie. En dat ek die loopbaan het wat ek het. Dit als in vrees.

“Ek het hier gekom as gevolg van magic, en ongelooflike karakters wat in my lewe verskyn het.”

  • Kyk na my word deur Human & Rousseau uitgegee en is ook in Engels met die titel Look At Me beskikbaar.
  • Nataniël se produksie When Giants Waltz begin Vrydag by die Theatre of Marcellus by Emperors Palace in Kempton Park en duur tot 27 Oktober.
Meer oor:  Nataniël  |  Boek  |  Vermaak  |  Celebs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.