Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Ons verlede en hede is vol ‘oralsmanne’

Verlede week het ’n SMS van die uwe in Beeld verskyn waarin hy na Panyaza Lesufi, minister van onderwys in Gauteng, as ’n “oralsman” verwys.

Oralsman. U gaan hom in geen woordeboek kry nie, maar dis vir my ’n beskrywende woord vir ’n persoon wat die vermoë het om oral op te duik waar dit saak maak. Dit kan positief of negatief wees – hang net af of jou siening saamstem met daardie persoon s’n. En dit kan beteken dat die persoon doelbewus oral is waar dit saak maak ten einde die saak of homself te bevoordeel, of dit kan wees dat hy toevallig opduik waar dinge gebeur. Dikwels is dit ’n dinamiese persoon wat in elk geval daar wil of sou wees.

Winston Churchill tydens die Anglo-Boereoorlog.Uit Mortimer Menpesse War Impressions

In ons geskiedenis is daar talle voorbeelde van die oralsman.

Paul Kruger was so iemand. Baie Afrikaners sal dit in ’n positiewe lig sien. By heelwat belangrike gebeure in die pioniersgeskiedenis van die Afrikaner was hy daar. As 11-jarige was hy in Oktober 1836 in die laer tydens die Slag van Vegkop. Dan vind ons hom teenwoordig by die ondertekening van die Sandrivierkonvensie op 17 Januarie 1852. Dis hy wat voorsitter is by die vredesonderhandelinge in Januarie 1864 om die Transvaalse Burgeroorlog te beëindig. Daarna neem hy toenemend die leiding in die geskiedenis van sy volk, wat hom noodwendig ’n oralsman maak.

Deneys Reitz was nog so ’n oralsman. As 17-jarige seun van staatsekretaris F.W. Reitz is hy kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in die regeringsgebou op Kerkplein in die geselskap van pres. Kruger en kmdt.genl. Piet Joubert. Hy ontvang van Joubert persoonlik ’n Mauser. Daarna vind ons die ventjie byna oral waar dinge tydens die oorlog gebeur. Dis asof sy avontuurlus hom daarheen lei – Talana, Spioenkop, Nooitgedacht, te veel om op te noem. Hy kom in die guerrillafase af op ’n sterwende genl. Gert Gravett, sluit by genl. Jan Smuts se epiese tog deur die Kaapkolonie aan, en is by die vredesamesprekings by Vereeniging teenwoordig as Smuts se ordonnans. Danksy sy herinneringe wat in 1929 as Commando gepubliseer is, het ons ’n skitterende prentjie van belangrike gebeure in die oorlog waar hy teenwoordig was.

Fransjohan Pretorius

Gooi nie vir Winston Churchill weg nie. Sy kleindogter Celia Sandys verwoord dit skitterend: “From his first taste of battle in Cuba on his twenty-first birthday to his days as wartime Prime Minister, he was always drawn towards the sound of gunfire, exhilarated by personal danger and relishing excitement.”

As oorlogskorrespondent verskyn hy op die toneel van die Anglo-Boereoorlog. Gou neem hy ook die wapen op, word krygsgevange geneem, ontsnap, net om as luitenant by die Slag van Spioenkop en die ontset van Lady­smith te wees. Hy is vooraan wanneer lord Roberts Pretoria in Junie 1900 beset.

Sy wedervaringe, sorgvuldig bekend gemaak aan ’n geesdriftige Britse publiek, verseker dat hy met die Khaki-verkiesing van Oktober 1900 tot parlementslid verkies word.

Ons verlede en hede is vol oralsmanne.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Meningsberig  |  Terugblik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.