Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Passievol oor politiek, demokrasie

Hy het sy naam gekry toe sy ma, hoogswanger, in 1994 tougestaan het om in die land se eerste demokratiese verkiesing te stem. Vandag lyk sy politieke toekoms blink danksy ’n beurs wat hom tot in Amerika geneem het waar hy tans studeer.

Michael Bongani Reinders (25) studeer vanjaar aan die Georgetown-Universiteit in Washington DC. Hy is tans besig met sy meestersgraad in demokrasie en regeerkunde nadat hy in 2019 saam met 22 ander Suid-Afrikaanse studente gekies is om die Fulbright-studiebeurs te ontvang.

Die Fulbright-program is een van Amerika se grootste opvoedkundige uitruilprogramme wat studiebeurse aan studente van meer as 150 lande toeken.

Michael Bongani Reinders (25) studeer tans aan die Georgetown-Universiteit in Washington DC danksy ’n studiebeurs van die Fulbright-program.

“Ek het gekies om hierdie graad te voltooi omdat dit prakties is en daarop fokus om demokrasie te verstaan en te versterk. Dit gee my eerstehandse ondervinding om met demokrasie te werk en dit gee vir my die gereedskap om werk te doen wat die demokrasie in Suid-Afrika sal versterk,” sê Reinders.

Byna alles wat Reinders doen en van droom, draai rondom die idee om mense te help.

Hy is oorspronklik van Johannesburg maar het sy sewe jaar van studies aan die Universiteit van Pretoria (UP) voltooi.

Reinders het regte studeer omdat hy veral in menseregte belang gestel het. Nadat hy sy LLB in 2017 voltooi het, het hy besef dat hy nie in die regte wil praktiseer nie.

“In 2018 het ek begin met ’n honneursgraad in politieke wetenskap samelopend met my meestersgraad in regte. Ek het besluit om my fokus te verskuif na politiek omdat ek besef het dat ek met politiek ’n beter kans sal hê om positiewe veranderinge in Suid-Afrika te maak.”

In 2019, dieselfde jaar waarin hy besig was om sy meestersgraad in regte te voltooi, het hy uitgevind dat hy die studiebeurs ontvang het en in Augustus is hy weg om in Amerika te gaan studeer.

Hy sê baie mense glo hom nie as hulle hoor sy middelnaam is Bongani nie.

“Bongani is ’n Zoeloe-naam en beteken ‘dankie God’, of om dankbaar te wees. My ma het gestem in die eerste vrye verkiesing in April 1994 toe sy agt maande swanger was. Ek is in Mei dieselfde jaar gebore as ’n ‘vrygeborene’ in ’n demokratiese Suid-Afrika.”

Hy sê sy ouers was oorstelp van vreugde oor die nuwe baba én die nuwe Suid-Afrika. Hulle het vir hul seun ’n Afrika-naam gegee om hul waardering vir albei te toon.

“Die naam dra nog altyd baie betekenis vir my omdat dit deel is van my identiteit. Ek verwys na myself as Michael Bongani, maar meeste mense ken my net as Bongani. Baie mense glo nie dat dit regtig my naam is nie, totdat ek vir hulle my ID-dokument wys, dan sien hulle dit dikwels as ’n positiewe ding.”

Reinders het in sy studies gefokus op dekolonisering, veral in universiteite. Hy was self ook deel van die #FeesMustFall-beweging waarin studente van oor die land heen betoog het oor studiegeld aan universiteite.

“As ’n kenner in die vakgebied van dekolonisering staar ek my nie blind teen die kwessies wat Suid-Afrika steeds het wanneer dit kom by rassisme, onderdrukking en neokolonialisme nie.

“Ek dink egter my identiteit as Michael Bongani is ’n bewys van die moontlikheid van ’n Suid-Afrika en ’n Afrika wat eendag gedekoloniseer kan word en ’n samelewing word vir almal wat daarin woon.”

Sy grootste doelwit vir die toekoms is om Suid-Afrikaanse onderwysbeleide te hervorm.

“Ek glo dat die oplossings vir baie van die wêreld se probleme in die verstand van die jeug lê. Deur jong Suid-Afrikaners toe te rus met die kennis en vaardighede om te veg teen ongelykheid, armoede, hongersnood en klimaatsverandering, kan ons ’n beweging van jong leiers skep wat saam sal werk om die wêreld se probleme op te los.”

Meer oor:  Washington Dc  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.