Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Pretorianer wen 2de Big Easy

Jason Smith (25) van Pretoria het verlede week sy tweede Big Easy-IGT-Uitdaagreeks-gholftoernooi by die Centurion-buiteklub gewen.

Hy het met net een hou voor Martin Scheepers klaargemaak nadat albei spelers hul laaste ronde in 67 houe voltooi het.

Jason Smith Foto: CJ DU PLOOY

Smith moes egter kophou en het voëltjies op die laaste twee putjies aangeteken om ’n uitspeelstryd met Scheepers, van Pretoria-Noord, te verhoed.

Smith was een van die voorste amateurspelers in die land voordat hy in 2017 in die Sonskynreeks begin speel het.

“Ek het ’n paar terugslae beleef en moes weer kwalifiseer,” sê Smith.

Die voorste ses spelers in die IGT-reeks kwalifiseer om volgende seisoen aan die Sonskynreeks deel te neem en met sy oorwinning is Smith ’n kortkop agter die huidige voorloper op die ranglys, Malcolm Mitchell.

“Ek het hierdie week baie gemaklik gevoel, alhoewel ek nie tot heel op die einde gedink het ek het ’n kans om te wen nie,” sê Smith.

Smith het die laaste ronde vier houe agter Albert Venter begin. Drie brouhoue oor die eerste nege putjies het Venter duur te staan gekom.

Met net nege putjies oor was Smith steeds vier houe agter, maar met Scheepers as die voorloper nadat laasgenoemde ’n arend en vier voëltjies oor die eerste nege putjies aangeteken het.

“Ek het op die tweede putjie ’n hou aan syfer afgestaan omrede ek ’n swak tweede hou geslaan het,” sê Smith. “Daarna het ek goed gespeel, maar die sethoue wou steeds nie val nie.”

Twee voëltjies het op sewe en agt gevolg en Smith was ewe skielik in die wedloop om te wen.

“Ek het op die syfer drie agtste my bofhou binne twee voet van die putjie geslaan en die maklike sethou ingerol,” sê Smith. “Ek het die tweede nege met bietjie momentum begin en nog ’n voëltjie op die tiende aangeteken. Hier het ’n lang sethou wel geval.”

Op die 12de het Smith nog ’n voëltjie met twee sethoue aangeteken. Steeds was Scheepers gemaklik voor, maar nadat hy die water op die 18de gevind het, was die deur vir Smith oop om die titel op te raap.

“Ek het op die bof van die 17de gestaan toe Martin sy bal in die water geslaan het,” sê Smith. “Dis toe dat ek geweet het ek het ’n kans.”

Scheepers se fout op die 18de het hom ’n hou gekos. Smith het intussen ’n 15-voet-sethou op die 17de ingerol om gesamentlik voor te loop.

“Ek het my bofhou op 18 geklap en my naderhou het agter op die setperk geland,” sê Smith. “Nog twee goeie sethoue en die titel was in die sakkie. Oor die laaste ronde het ek probeer om op my eie spel te fokus eerder as om my te bekommer oor wat die ander ouens doen.”

Venter het met sy laaste ronde van 74 tot in die gesamentlike derde plek uitgesak. Jason Froneman het saam derde geëindig nadat hy die beste ronde van die dag gespeel het en vir 66 houe geteken het.

Morne Buys was vyfde.

Meer oor:  Gholf  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.