Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Rioolwater verswelg die Wieg van Mensdom

As jy in Mogale City woon en gespog het met die lekker boorgatwater wat jy op jou plaas of kleinhoewe drink, is dit dalk tyd vir bykomende filters.

Ondanks die trots wat straal uit die groot kennisgewingbord in die middel van Krugersdorp wat lui dat Mogale City bloudruppelwater het, word riool van die Percy Steward-rioolplaas in Bloubankspruit in dié spruit en Krokodilrivier gestort.

Hoewel Krugersdorp se drinkwater bloudruppelstatus geniet, is dit totaal anders laer af in die vallei op pad na die Wieg van die Mensdom.

Die besoedeling veroorsaak dat boere nie boorgatwater kan gebruik nie en besproeiing uit die riviere nie moontlik is nie. Vakansieplase en gastehuise langs die riviere se besoekersgetalle daal ook weens die rioolstank.

Die VF Plus het ’n klag van waterbesoedeling by die Gautengse departement van omgewingsake en landelike ontwikkeling teen die Mogale City-munisipaliteit ingedien.

Alhoewel die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit met bloudruppelstatus water in Krugersdorp kan spog is dit nie geval ’n paar kilometer buite die dorp waar riool in die Krokodilrivier newens die Wieg van die Mensdom gestort word nie. Foto: PIETER DELPORT

Tjaart Steenkamp, VF Plus-raadslid in Mogale City, sê die besoedelde Bloubankspruit, wat deur die Wieg van die Mensdom vloei waar verskeie fossiele in die gebiede van Sterkfontein, Swartkrans en Kromdraai aangetref word, is reeds onder die aandag van die Verenigde Nasies se opvoedkundige,wetenskaplike en kultuurorganisasie (Unesco).

“Verskeie versoeke is reeds sonder welslae aan die Mogale City-munisipaliteit gerig om die besoedeling te staak,” sê Steenkamp.

“ ’n Tender vir die verskaffing van ’n chloor-suiweringstelsel by die rioolplaas is verlede jaar geadverteer, maar nog nie toegeken nie.”

Riool word in die Bloubankspruit en Krokodilrivier reg langs die Wieg van die Mensdom gestort.

En asof die Covid-19-inperking toerisme nie genoeg geknou het nie, moet vakansieplase buite Krugersdorp en Magaliesburg nou nog verder finansieel geknou word weens ’n gebrek aan besoekers vanweë die stank.

Steenkamp sê die wanbestuur van Mogale City strek veel verder as rioolbesoedeling en behels ’n algehele ineenstorting van infrastruktuur en dienslewering.

Besorgde inwoners in die omgewing van die Wieg het verlede week vergader om ’n aksieplan teen die besoedeling te bespreek.

Trevor Roberts, amptelike woordvoerder, sê besonderhede sal binnekort bekend gemaak word.

Duncan Mkhonto, bestuurder van water en sanitasie by Mogale City, sê instandhoudingswerk is reeds aan die gang by die betrokke riool-aanleg. Grootskaalse herstelwerk word glo gedoen.

Meer oor:  Mogale City  |  Vf Plus  |  Rioolwater  |  Riool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.