Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Sheldean sou dié jaar 21 geword het

Sy dink nog elke dag, 13 jaar ná die moord op Sheldean Human, aan haar dogtertjie met die blonde hare, blou oë en haasbekkie-glimlag.

Sheldean was net sewe jaar oud toe sy op 18 Februarie 2007 in Pretoria Tuine ontvoer en vermoor is. Vanjaar sou sy 21 jaar oud geword het.

Sheldean Human (7) is 13 jaar terug vermoor.

“Ek dink elke dag aan haar, nie net op sekere tye nie. Ek dink aan die goeie tye, maar dan hardloop alles deur my kop wat met haar gebeur het toe sy verdwyn het. Ek dink aan die goeie nuus en die slegte nuus,” sê Elize (61), haar ma, wat tans in Claremont in Pretoria woon.

Elize bly vir ’n oomblik stil toe sy gevra word watter tipe jong vrou Sheldean, haar enigste kind, moontlik vandag kon gewees het.

“Jy vra nou ’n vraag wat ek self nie kan antwoord nie. Ek sit self en dink daaraan. Ek dink hoe sou sy gelyk het vandag, wat sou sy gedoen het. Sou sy universiteit toe gegaan het of sou sy begin werk het? Sou sy ’n kêrel gehad het? Ek sit aan al daai goed en dink. Daarvoor het ek nie antwoorde nie.”

Elize sê haar grootste wens vir Sheldean as ’n jong volwassene sou wees dat sy net gelukkig is.

Sheldean se ontbinde halfkaal lykie is 15 dae nadat sy voor haar huis in Pretoria Tuine verdwyn het, in ’n stormwaterdrein gevind.

Sy is destyds in haar moordenaar, Andrew Jordaan, se sorg gelaat. Jordaan is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Sheldean, asook ’n verdere 33 jaar en drie maande tronkstraf opgelê omdat hy Sheldean ontvoer het, haar probeer verkrag het, haar maatjie verkrag en onsedelik aangerand het en dagga in sy besit gehad het.

Elize Human (61) staan by Sheldean se graf in die Zandfontein-begraafplaas.

Hy is later in die Leeuwkop-gevangenis deur ’n medegevangene doodgeslaan.

Die moord op Sheldean het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Die gemeenskap het destyds pienk klere aangetrek tydens die soektog na Sheldean en uit protes toe hulle van haar gru-dood uitgevind het.

Dit is ook hoe Pink Ladies, ’n organisasie sonder winsbejag wat help om vermiste kinders op te spoor, ontstaan het. ’n Groep vroue geklee in pienk het na Sheldean begin soek.

“Dit maak my baie hartseer wanneer ek hoor van kinders wat vermis word. Om te dink dat ander ouers daardeur moet gaan. Die regering moet baie meer doen om kinders te beskerm,” sê Elize.

Sheldean Human (7).

Sy sê die 16 dae van aktivisme-veldtog wat jaarliks in die land gehou word teen geweld teen vroue en kinders is nie genoeg nie.

“Dit help nie om dit slegs vir 16 dae te doen nie. Hulle moet baie meer projekte doen vir bewusmaking. Hulle moet iets doen.”

As sy vandag nog iets vir Sheldean kon gesê het, sou dit wees om terug huis toe te kom.

“Ek weet ek mis haar, ek dink nie dit help om dit te sê nie. Ek dink sy weet wel presies wat in my gedagtes aangaan. Ek mis haar baie en wens sy was terug by my. Ek wens dit het nooit met haar gebeur nie.”

Lt.genl. Tebello Mosikili, hoof van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, het vroeër vanjaar gesê sowat 200 kinders raak elke maand in Suid-Afrika vermis en die helfte van hulle word gevind.

Meer oor:  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.