Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Sonlandpark se gemeente uiteen

Die Lux Deo Sonlandpark-sentrum in Vereeniging het die afgelope naweek sy 48ste bestaansjaar met ’n lag en ’n traan gevier.

Lux Deo Sonlandpark-sentrum in Vereeniging wat onlangs verkoop is.

Die gemeente, wat op 3 November 1971 gestig is, se laaste erediens is op 24 November ná die sentrum verkoop is.

Vrydag is daar soos altyd basaar gehou, die Cantando@Delta-koor het opgetree en die verhaal van Job is op ’n besonderse manier in ’n produksie vertel.

“Dit (die verkoop van die sentrum) was nie ’n maklike pad nie, maar ’n nodige pad,” sê Ampie Cilliers, finansiële bestuurder, een van die gemeenteleiers en 40 jaar ’n lidmaat van die kerk.

“Ons werk voort en huil agter ’n toe deur oor gemeentelede wat na ander gemeentes gaan verhuis, maar gelukkig is hulle nie te ver nie.”

Cilliers sê die lidmate het al sowat twee jaar gelede op ’n gemeentevergadering besluit om die sentrum te verkoop. Hy vertel hoe die omgewing verander het.

“Toe die gemeente gestig is, het die voorstad uit sowat 80% potensiële lidmate bestaan en by die laer- en hoërskole was Afrikaans die medium van onderrig. Die meerderheid inwoners is nou lidmate van Engelse kerke. Die laerskool is ook nou Engels-medium.”

Die oorblywende lidmate is ouer. Talle het ná aftrede verhuis. Die gemiddelde ouderdom van die 350 lidmate is 62 en 70% van die belydende lidmate is ouer as 65. Niemand in die gemeente is tussen 25 en 45 jaar oud nie.

Cilliers sê die dalende lidmaattal en die erg verswakte ekonomie in die Vaaldriehoek het dit baie moeilik gemaak om geldelik te oorleef. Die gemeente het in 2013 met die Arconpark-gemeenskapskerk saamgesmelt. Eredienste gedurende skoolkwartale het soos altyd voortgegaan en gedurende vakansietyd is gesamentlike eredienste by die Arconpark-sentrum gehou.

Die nuwe eienaars, The House of the Twelve Apostles, is ’n onafhanklike kerkgroep met takke in Suid-Afrika en verskeie ander Afrika-lande.

Intussen is daar aktief na ’n koper vir die Sonlandpark-sentrum gesoek. ’n Verkoopooreenkoms is onlangs gesluit en op 1 Desember begin die nuwe eienaars met hul eredienste en aktiwiteite.

“Die nuwe eienaars, The House of the Twelve Apostles, is ’n onafhanklike kerkgroep met takke in Suid-Afrika en verskeie ander Afrika-lande,” sê Cilliers.

Lidmate van Sonlandpark het nou die opsie om ’n lidmaat van Arconpark te bly, maar kan ook by buurgemeentes inskakel.

Sonlandpark het gedurende die 48 jaar 12 predikante gehad. Ds. Jollie Theron bedien tans albei sentrums en addisionele preekhulp word uitgekontrakteer.

Cilliers sê baie moeite is die laaste tyd gedoen om lidmate te herinner hoe goed God oor die jare vir die gemeente was.

“Ons wil ook graag met mense gesels oor hierdie pad wat ons geloop het en ander help, want dit gaan beslis op die pad van baie gemeentes kom. Ons kan getuig hoe die Here gesorg het en die sake binne sy tyd reg laat verloop het.”

Meer oor:  Vereeniging  |  Kerk  |  Verkoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.