Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Sprong van agt meter in Tuks-atleet se versier

Die Tuks-atleet Jovan van Vuuren het goeie rede waarom hy vanjaar gereeld verder as agt meter wil spring, en dit is nie net omdat hy vir die Olimpiese Spele in Tokio wil kwalifiseer nie.

Eerstens wil hy nie bekend staan as ’n “one-hit wonder” nie, maar die drang om die maatband in die sandput te bly rek is ook erg persoonlik. Twee jaar gelede het ’n goeie vriend, Hendrik Maartens, homself om die lewe gebring.

“Weet dat wanneer ek daardie groot sprong spring, ek dit vir Hendrik doen.

“Dit sal my manier wees om hulde aan hom te bring,” sê die Tuks-atleet.

Die Tuks-atleet Jovan van Vuuren het verlede jaar die eerste keer agt meter ver gespring en wil dit weer vermag, om sodoende aanspraak op die Olimpiese span te maak. Foto: Reg Caldecott

Die enigste keer sover wat Van Vuuren daarin kon slaag om die agt-meter-grens te oorskry, was verlede jaar gedurende die Suid-Afrikaanse Studentekampioenskap in Stellenbosch.

Hy het die goue medalje met ’n sprong van 8.10 m ingepalm. Die poging maak hom een van Suid-Afrika se tien beste verspringers van alle tye.

Volgens van Vuuren was dit Maartens wat hom altyd aangemoedig het om nooit in die sandput terug te hou nie.

“Ek en Hendrik was vriende vandat ons sewe was. Ons het ’n passie vir atletiek gedeel. Ek beskou hom steeds as een van Suid-Afrika se mees belowende naellopers.

“Nadat hy in 2017 die 200 m in ’n tyd van 20.40 sek. afgeblits het, het ek hom gespot en gesê hy is Afrika se vinnigste wit naelloper.

“Wat ek die meeste van Hendrik bewonder het, was sy absolute toewyding.

“Met elke oefensessie het hy 100% gegee.”

Van Vuuren twyfel nie dat agt meter gaan gebeur nie. As hy sy sin kry, sal dit op 20 Maart gedurende die Varsity-byeenkoms by Tuks wees.

Hy erken dat een van die grootste foute wat hy kan maak, is om obsessief te raak.

“My afrigter, Neil Cornelius, benadruk altyd dat my enigste fokus moet wees om dit te beheer wat ek kan. Wanneer ek spring, is dit dus net ek, die aanloopbaan en die plank wat saak maak.

“Ek moet bieg, daar is iets opwindends om ver te spring. Die oomblik wat jy vastrap en spring, skop die adrenalien in.

“Vir daardie paar millisekondes voel dit asof jy vlieg en eintlik doen jy.

“Ek dink nie mense besef hoe ver agt meter is nie. Dit is meer as twee verdiepings, net horisontaal.

“Om die sand te tref is nie altyd so prettig nie. Daar was al kere dat ek gevoel het ek val my wind uit, maar dit bly steeds lekker. Ons atlete is maar eintlik ‘junkies’ want ons raak verslaaf aan wat ons doen.”

Van Vuuren besef terdeë hy sal moet uithaal en wys om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

“Op die Suid-Afrikaanse byeenkoms sal ek drie van die wêreld se beste verspringers – Luvo Manyonga, Ruswahl Samaai and Zarck Visser – moet klop. Ek weet ek kan. Ek moet net glo.”

Meer oor:  Atleet  |  Verspring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.