Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Talle Pierneefs in een uitstalling by Monument

’n Pierneef-skildery van die Uniegebou met ’n besonder interessante storie is deel van ’n uitstalling van dié legendariese skilder se werk wat Vrydag by Galery 20.20 by die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument in Pretoria geopen het.

’n Indrukwekkende versameling van J.H. Pierneef se werke is van Vrydag af by Galery 20.20 in die Erfenissentrum by die Voortrekker-monument in Pretoria te sien. Foto: Helenus Kruger

“Die betrokke skildery is destyds op bestelling vir die SS Pretoria Castle geverf,” sê Dirk Oegema, kurator van die Pretoria-kunsmuseum. “Die skip is egter tydens die Tweede Wêreldoorlog in ’n militêre vaartuig omskep en die skildery is daaruit verwyder.

“ ’n Tweede SS Pretoria Castle is gebou en die skildery is daarin aangebring, maar toe dié skip die einde van sy leeftyd bereik het, het die stadsraad gevra om die skildery te bekom.

“Hierna het die skildery in die Munitoria- munisipale gebou gehang. Soos die geluk dit wou hê, het die kuns­museum die skildery vir ’n uitstalling geleen ten tye van die groot brand in Munitoria in 1997.”

Op dié manier is die skildery ’n vlamme-einde gespaar.

Die werke in die uitstalling is by die Pretoria-kunsmuseum geleen, behalwe een, wat uit die Monument se eie versameling kom.

“Ons het byna nie ’n uitstalling gehad nie,” het Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Monument by die openingsgeleentheid gesê.

“Ons sou elders van Pierneef se werke leen, maar ons sou dit self vir amper R30 000 moes verseker. Dis geld wat ons bloot nie het nie, maar gelukkig het ons ’n aanbod van die stadsraad gekry om werke uit die versameling by die Pretoria-kunsmuseum te gebruik.”

Daar is ’n sterk Pretoria-tema in die werke, met stadstonele uit die vroeë tot middel 1900’s. Oegema sê die uitstalling is ’n gulde geleentheid om ’n klomp Pierneef-werke op een slag te sien. Die werke word wel soms by die kunsmuseum uitgestal, maar dit word om die beurt gedoen wat dit moeilik maak om almal op een slag te sien te kry.

  • Die uitstalling kan van Maandae tot Vrydae van 8:30 tot 15:00 besigtig word. ’n Toegangsfooi van R15 is betaalbaar. As die Monument ook besoek word, geld die gewone toegangsfooi. Die uitstalling kom op 8 Oktober tot ’n einde.
Meer oor:  Kunsuitstalling  |  Uitstalling  |  Pretoria  |  Uniegebou  |  Voortrekkermonument  |  Monument
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.