Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Tamaai wedloop op skrikkeldag

Met dié dat dit vanjaar skrikkeljaar is, meen die lede van die Harlekyne-hardloopklub dat die 29ste Februarie spesiaal bedoel is om ’n monster te tem.

Die Medihelp Sunrise Monster-wedloop is bekend om sy vele tamaai bulte en steil afdraandes, soveel so dat dit in die hardloopgemeenskap bekend geword het as die beslissende kondisioneerder vir die Com-rades-marathon.

Mense kom van heinde en verre om te kom bewys dat hulle taai genoeg is vir die uitdaging en dat hul fiksheidsvlakke op stryk is om die pelgrimstog tussen Pietermaritzburg en Durban 15 weke later aan te durf.

’n Mens kry behoorlik hoendervleis as jy saam met duisende ander geesdriftiges by die wegspringpunt staan en hande klap en wag vir die skoot om te klap, presies om 06:03, wanneer die son sy kop uitsteek.

Nie lank daarna nie, voel jy hoe jou longe brand en jou spiere kla as jy die eerste van die gevreesde bulte sommer al in die eerste kilometer aandurf. En dit hou nie op nie, trouens, as jy die totale aantal bulte van die wedloop op mekaar kon stapel, sou dit die lengte van meer as vyf rugbyvelde beslaan.

Diegene wat nie omgee vir ’n bietjie lyding nie, sal die blaarryke roete geniet, veral die gedeelte wat deur die natuurreservaat oor Fort Klapperkop kronkel waar sebras en ander bokke deelnemers aanmoedig, of ten minste aankyk.

Die wedloop word vanjaar vir die 43ste agtereenvolgende jaar aangebied en lok jaarliks sowat 7 000 deelnemers en omtrent 2 000 toeskouers. Buiten die 32 km lange monster is daar ook ’n 21 km half-monster, ’n 10 km mini-monster en ’n 5 km baba-monster.

Vanjaar is dit boonop ’n ligawedloop van Gauteng-Noord-padhardloop. Dit beteken dat atlete vir hul klubs punte verdien deur aan die wedloop deel te neem.

Baie klubs maak ook van die geleentheid gebruik om saam met spanmaats te kuier en te braai ná die taai stryd.

Vanjaar se wedloop het egter ook ’n hartseer kant aangesien dit die eerste keer in meer as 30 jaar sal wees dat Geoff Hesse nie aan die bestuur van die wedloop staan nie.

Hy is in Desember verlede jaar aan ’n hartaanval dood.

Navrae kan gedoen word by Megan Hesse 082 896 4377.

Atlete wat bulte teen enige koste wil vermy, kan op Sondag, 1 Maart aan die Cape Gate Vaal-marathon in Vereeniging deelneem. Dié wedloop is bekend om sy vinnige roete wat makliker is vir beginners en atlete wat nog sukkel om te kwalifiseer.

Dit begin om 06:00 by die Dick Fourie-stadion.

Meer inligting is hier beskikbaar.

Meer oor:  Skrikkeljaar  |  Hardloop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.