Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Terugblik: Antjie Somers-vrees

Marizanne Kok verwys in Rapport na die Australiese krieketspeler Steve Smith, vir wie die Engelse boulers maar net nie kan uitkry nie, as die Engelse ondersteuners se Antjie Somers.

’n 16de-eeuse houtsnee van ’n heks wat by ’n skoorsteen uitvlieg. In die Afrikaanse volksgeloof was Antjie Somers die vernaamste figuur wat sterk aan ’n heks herinner. Foto uit: P.W. Grobbelaar et al., Die Afrikaner en sy kultuur, Deel VI, Boerewysheid

Toe wonder ek hoeveel van die jonger lesers al van Antjie Somers gehoor het. Want in die Afrikaanse volksgeloof is (of waarskynlik “was”) sy die vernaamste figuur wat sterk aan ’n heks herinner. ’n Kinderskrikmaakfiguur, wat bewustelik deur ouers aangewend is om die kinders mee in bedwang te hou.

Volksgeloof is dit wat die groot massa glo, veral allerhande bygelofies. Toe wonder ek ook hoeveel van die volksgeloof oor Antjie Somers nog relevant is.

Tradisioneel word Antjie Somers voorgestel as ’n bruin vrou of ’n bruin man met vroueklere aan wat só vermom rondgaan om te roof en te moor. Daar word vertel (en dis die basis van volksgeloof – “daar word vertel”) dat sy werklik in die Kompanjiestyd aan die Kaap gelewe het. In hierdie man- of vrouegedaante het Antjie Somers deur die jare ’n paaiboelie geword wat kinders sou vang as hulle saans laat rondloop.

Antjie Somers was op haar bekendste in die Boland en omstreke. Haar bekendheid neem geleidelik af na die noorde.

Verskillende beskrywings word van Antjie Somers gegee. Net so verskillend is die eienskappe wat aan haar toegedig word. Algemene konsensus is dat sy ’n besonder woeste geaardheid gehad het en basies soos ’n heks was – ’n bose karakter.

Die belangrikste aanduiding van haar hekse-aard is dat sy haar onsigbaar kon maak en soos ’n gedagte van een plek na ’n ander kon beweeg.

Abel Coetzee het in die 1930’s ’n aantal beskrywings van onse Antjie opgeteken. Let op hoe daar verskille en ooreenkomste is. G.A. Liebenberg het vertel: “ ’n Vreeslike naam vir ’n kind was Antjie Somers. As dié naam genoem word, sou niemand dit waag om na buite te gaan nie. Dit was die naam van ’n afskuwelike ou bruin vrou. Sy spook nou en gaan rond om stout kinders te vang. Die spook het gewoonlik verskyn in die gedaante van ’n geraamte. Die ribbetjies het los gehang, en as die spook beweeg of die wind waai, dan ratel die ribbetjies.”

Ook het sy altyd geweet wanneer ’n kind stout was, hom dan gevang en in ’n groot sak gestop.

Alma Mulder: “As kind was sy my grootste nagmerrie. Sy is aan ons voorgestel as ’n ou swart vrou met slagtande en bokpootjies. Die bokpootjies het haar in staat gestel om blitsvinnig van die een plek na die ander te beweeg. Ook het sy altyd geweet wanneer ’n kind stout was, hom dan gevang en in ’n groot sak gestop.”

J. Serfontein het gesê dat sy “ ’n ou groot swart vrou was, gewoonlik geklee in ’n lang bont rok, en sy het ’n lang mes by haar gedra. Sy het al die stout kinders gevang en hul kele afgesny met haar lang mes. Later is aan ons vertel dat sy nie ’n swart vrou was nie, maar wel ’n groot swart man wat hom soos ’n vrou aangetrek het.”

Nou ja toe. Mag die All Blacks nie ons Antjie Somers by die Wêreldbeker wees nie.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Terugblik  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.