Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Terugblik: Boereoorlog kon anders verloop het ...

Met oorlog wat al hoe meer na ’n voldonge feit begin lyk het tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek en Brittanje, het Jan Smuts, staatsprokureur van die ZAR, op 4 September 1899 – vandag 120 jaar gelede – ’n memorandum opgestel oor die wyse waarop die ZAR en die Oranje-Vrystaat die stryd teen Brittanje behoort te voer.

Smuts het voorspel dat die verwagte oorlog lank, bloedig en uitputtend sou wees. Die republieke moes uit die staanspoor die oorhand oor die Britse magte in Suid-Afrika behaal deur aanvallend op te tree.

Jan Smuts as generaal in die Anglo-Boereoorlog.Foto: OORLOGSMUSEUM VAN DIE BOEREREPUBLIEKE

Die situasie op daardie oomblik, het Smuts gesê, was dat die Britse leërmag in Suid-Afrika uit hoogstens 15 000 man bestaan het sonder enige moontlikheid om binne vyf weke versterkings te kry. Daarteenoor kon die republieke onmiddellik ’n mag van 25 000 Transvalers en 15 000 Vrystaters mobiliseer.

Natal moes onmiddellik binnegeval word en Durban bereik word voordat versterkings opdaag. Terselfdertyd moes die spoorlyn tussen die Kaapkolonie en Rhodesië afgesny word. Enorme hoeveelheid wapen- en voedselvoorrade in Natal sou in Boerehande val en dit sou die Afrikaners van die aangrensende distrikte van die Kaapkolonie aanmoedig om teen die Britse owerheid in opstand te kom. Frankryk, Duitsland en die VSA sou probeer voordeel trek uit ’n Britse nederlaag in Suid-Afrika, maar sou heel moontlik afsydig bly indien die republieke verloor.

Sy oortuiging dat die opbreek van die spoorlyn tussen die Kaapkolonie en Rhodesië die aangrensende distrikte van die Kaapkolonie tot opstand sou aanmoedig, was politiek naïef. Hierdie distrikte was oorweldigend pro-republikeins, maar omdat die Boere­regerings hulle nie deurgaans sou kon ondersteun nie, het so ’n inisiatief geen kans op blywende sukses gehad nie.

Aan Smuts se voorstel dat die spoorlyn tussen die Kaapkolonie en Rhodesië afgesny word, is wel gehoor gegee toe genl. Koos de la Rey op 12 Oktober 1899 met die eerste militêre kontak van die oorlog die spoorlyn naby Kraaipan suid van Mafeking opgebreek het. As Smuts egter voorgestel het dat die Boere die spoorlyn dieper in die Kaapkolonie, by byvoorbeeld De Aar, moet afsny, sou dit ’n sinvoller strategie gewees het deurdat die Britse magte aan die Boere se wesfront vroeër gestuit sou kon word. Genl. Piet Cronjé, bevelvoerder van die Transvaalse magte aan die wesfront, het De la Rey se versoek dat hy onmiddellik die Kaapkolonie tot by Kimberley binnedring, geweier. Dit het die poging om lord Methuen se opmars te stuit, ernstig geknou.

Smuts moes toekyk hoe sy voorstel dat Durban bereik word, in die grond versand. Sulke denke het nie in kmdt.genl. Piet Joubert se beperkte visie geval nie. Dit is óf nooit oorweeg nie óf geleidelik op die agtergrond geskuif, sodat dit met die uitbreek van die oorlog op 11 Oktober 1899 nie (meer) ’n prioriteit was nie.

Met die uitbreek van die oorlog het die republikeinse magte Natal binnegeval, gekortwiek deur die reën en onbegaanbare paaie. Geesdrif was daar, maar dringendheid was afwesig. Die eerste Boere wat Durban sou betree, was krygsgevangenes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.