Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Terugblik: Paul Kruger en die Joodse gemeenskap

Pres. Paul Kruger en die “landzonen” (Boere) van die Zuid-Afrikaansche Republiek het die Uitlander-instroming ná die ontdekking van goud in 1886 aan die Witwatersrand met groot agterdog bejeën. Soos Lucille Heydenrych aandui, het ’n indringerstad wat die Boere se rustige lewenswyse met brassery en onrus versteur het, teen hul wense voor hul oë verrys.

Paul Kruger by geleentheid van die inwyding van die Park-Sinagoge in De Villiersstraat, Johannesburg, op 15 September 1892 (Foto uit: Louis Changuion, Fotobiografie: Paul Kruger, 1825-1904).

Kruger het nie moeite gedoen om die inwoners van Johannesburg beter te leer ken nie. Sy ervaring in 1890 toe hy op besoek aan die Goudstad in ’n onderhoud verneder is, het die situasie nie vergemaklik nie. En tog het hy in September 1892 aan die inwyding van die Park- Sinagoge in De Villiersstraat deelgeneem. Dit het tot die ontstaan van ’n paar mites gelei, wat regstelling vereis.

Die Joodse gemeenskap het ongeveer een tiende van die totale bevolking van Johannesburg uitgemaak. Jode was sterk betrokke by die aandelebeurs. Daar was groot mynmagnate onder hulle, soos Joseph Robinson en Barney Barnato, maar daar was ook ekonomies hulpbehoewendes vir wie ’n sopkombuis ingestel is.

Jode in die ZAR kon eers in 1899 volksraadslede word, maar kon nie in staatsposte aangestel word nie. En tog het ’n Joodse joernalis uit Letland, in 1891 ná twee jaar verblyf in die ZAR, geskryf dat daar geen haatgevoelens was nie: “Here a Jew is not ashamed for saying that he is a Jew.” Oor die algemeen was daar ’n wedersydse vriendskaplike verhouding tussen die Joodse immigrante en die Boere, hoewel sommige Jode hewig teen die Kruger-regering gekant was.

Ondanks kontemporêre aantygings, soos dié van J.A. Hobson, dat Kruger met sy streng Calvinisme onverdraagsaam teenoor andersdenkendes was, wil dit voorkom of hy tog verdraagsaam teenoor die Jode was. Moontlik kan dit toegeskryf word aan sy oortuiging dat hulle geskiedenis identies aan dié van sy eie mense was. In 1905 het ’n Joodse skrywer aangedui: “Dour and narrow as Kruger’s theological outlook may have appeared to many, Jews enjoyed freedom and facilities which are not bettered in any country in the world today.”

Met die inwyding van die Park-Sinagoge op 15 September 1892 het talle Joodse verenigings memories aan Kruger oorhandig waarin die regering gedank word vir die skenk van die standplase vir die bou van die Sinagoge. Trou is aan die staat gesweer. In sy toespraak het Kruger verklaar dat, hoewel hy op godsdienstige terrein van sy toehoorders verskil, hy hulle nogtans re­spekteer en as die Verbondsvolk van God beskou.

Met verloop van tyd het daar ’n paar mites ontstaan. Sommige skrywers het vermeld dat Kruger nie die Joodse gebruike wat vereis dat hy sy keil in die gebou op sy kop hou, eerbiedig het nie en dat hy selfs die Sinagoge ingewy het “in die naam van Onse Here Jesus Christus”.

Heydenrych wys ons egter daarop dat hierdie aantygings nie waar was nie. Geen tydgenootlike koerante, wat almal breedvoerig oor die verrigtinge verslag gedoen het, maak van so iets melding nie. Ook dr. Hertz, rabbi van Johannesburg, het dit ontken.

Dit wys maar net weer: ’n Studie van Kruger vereis genuanseerde ontleding.

Meer oor:  Paul Kruger  |  Fransjohan Pretorius  |  Terugblik  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.