Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Terugblik: Piekniek was eens wat braai nou is

Laat ons ná verlede week se verhaal oor Antjie Somers ’n bietjie langer stilstaan op die Afrikaanse kultuurakker. Hierdie keer is die tradisionele piekniek aan die beurt. Die Afrikaner het sy eie stempel op dié aktiwiteit afgedruk.

Ons voorouers het van piekniek ’n volksfees in die kleine gemaak. Met ons heerlike lentes en somers en ons liefde vir die buitelug was pieknieks ’n gewilde tydverdryf. Belangrik was dat dit in ’n groep, so groot as moontlik, plaasgevind het. Ek onthou nog as kind ons kolossale Sondagskoolpieknieks by die Verrynes op Bokfontein onder die wildevyebome teenaan die Magaliesberge.

’n Skets van ’n wa se disselboom wat gebreek het op pad na ’n piekniek.

Elke moontlike geleentheid is aangegryp om piekniek te hou – Nuwejaar, “oesaf”, verjaardag, die lot. Hoog op die spyskaart was piekniekliedjies en piekniekspeletjies. Dikwels is piekniekliedjies al met die vertrek aangehef. Dit het begin met die ringdans. Liedjies wat gesing is terwyl die piekniekgangers in ’n ring of kring hande vashou, was byvoorbeeld “Daar kom die wa” en “Pollie ons gaan Pêrel toe”. Dit gaan dan oor in ’n vermaaklike tiekiedraai.

Dan volg die reidans, ook in ’n kring, met liedjies soos “Wat maak oom Kalie daar?” en “Aai, aai, die witborskraai”. En dan kom gemengde speletjies aan die beurt met dreunsang soos “Aljander, aljander, so deur die bos”, en liedjies soos “Die besem, die besem”. Die leiers van die speletjies moes sorg dat almal – tot die skaamste enetjie – deelneem, en hulle moes die groepsgees met allerlei spitsvondighede uitbou.

Kosmandjies is voor die tyd gepak met kouevleis, veral koue frikkadelle, groot koeke en kleinkoekies, lemoenstroop en gemmerbier. Dekens of komberse was ’n moet om onder die koeltebome uit te sprei.

Ek was verstom om te verneem van die jaarlikse Boerepiekniek in die Fonteinedal in Pretoria op Empiredag, 24 Mei. Het die Boertjies geweet dit was koningin Victoria se verjaardag?! Hulle vertel dat duisende mense die dag met boeresport en speletjies, voordragte, sang en musiek deurgebring het. Dan was daar nog toesprake oor volksbelange by!

In die loop van die 20ste eeu het pieknieks hul glans verloor. Die rolprentteater en georganiseerde sport het hulle verdring. Pieter Grobbelaar sê dat vleisbraaiery sedert 1938, met die 100-jarige herdenking van die Groot Trek, geleidelik in die plek van die piekniek as ontspanning en gesellige verkeer gekom het. Hy reken dat vleisbraaiery in so ’n mate as feestelikheid gevestig is dat dit daarom tot in die familiekring ingedring het. Ons gaan nóú braai.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Aktueel  |  Braaidag  |  Terugblik  |  Geskiedenisrubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.