Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Terugblik: Roekelose bevel tydens die Anglo-Boereoorlog

Kom ons kyk na twee insidente in die Anglo-Boereoorlog waartydens ’n Britse en ’n Boere-offisier hul lewens verloor het as gevolg van roekelose opdragte deur hul bevelvoerders, wat deur die twee dapper (en dalk ook roekelose) offisiere as ’n uitdaging aanvaar is – en tot hul roemryke dood gelei het.

Die lyk van genl. Ferdinandus Potgieter op die slagveld van Roodewal, met sy dooie perd ’n entjie van hom af (A.W.G. Raath, De la Rey: ’n Stryd vir vryheid)Foto:

Ons praat hier van kol. O.C. Hannay by die Slag van Paardeberg op 18 Februarie 1900, en veggenl. Ferdinandus Potgieter by die Slag van Roodewal op 11 April 1902.

Ná die Britse besetting van Kimberley op 15 Februarie 1900, het lord Kitchener met 45 000 man sowat 4 200 terugvallende Boere en hul 600 waens onder genl. Piet Cronjé twee dae later by Paardeberg op die oewer van die Modderrivier ingehaal.

Op 18 Februarie het die Britte aangeval. Nieteenstaande hul vernederende terugval tot hier, het die Boere hewige weerstand gebied. Kitchener het Hannay, bevelvoerder van die 1st Mounted Infantry Brigade, beveel om die Boerelaer van die oostekant aan te val. Sowat 450 m van die Boerestellings af het Hannay ’n nota aan Kitchener gestuur dat hy nie verder kon vorder nie. Kitchener het Hannay eenvoudig beveel: “The laager must be rushed at all costs ... Gallop up if necessary and fire into the laager.”

En dit is wat ’n verbete Hannay gedoen het. Met die woorde: “We are going to charge the laager, follow me”, het hy met 50 man op ’n jaaggallop op die Boerelaer afgepyl. 220 m van die Boere is sy perd onder hom neergeskiet. Te voet het hy verder gestorm, en 180 m van die Boere die doodskoot gekry. Van sy makkers is gedood, die meeste is gewond.

En Kitchener? Al wat hy geskryf het, was: “Colonel Hannay nobly sacrificed his life in a futile dash on the laager.”

Met die Boereleiers by Klerksdorp vir vredesamesprekings, het genl. Jan Kemp op roekelose wyse besluit om die Britse mag van 11 000 man by Roodewal aan te val. Het sy aanval te perd geslaag, soos dié van genl. De la Rey by Tweebosch, was hy ’n held. Maar in die nag het die vyand van posisie verander, en die Boere het hulle in ’n vernietigende vuur vasgeloop, of liewer vasgery, met genl. Ferdinandus Potgieter vooraan.

Só het ’n Britse bron dit beskryf: “Potgieter leading a line of [800] Boers – the pick of the back-veld – at a steady canter, over ground that could not give cover to a mouse; straight at a mass column of 1 500 British bayonets and another support column. Every rifle, pom-pom and field gun is firing for dear life. The charge of the Light Brigade at Balaclava was a child’s play to this. Miraculously – incredibly – on and on they came until Potgieter falls with a bullet through his brain only seventy yards from the centre of the Scottish Horse. When we buried these heroes we did so as reverently as if they had been comrades.”

En Kemp? Hy blameer bloot sy verkenners dat hulle die vyand se posisies verkeerd gerapporteer het, en: “Onder die gesneuweldes was my dapper en onverskrokke kmdt. Potgieter van Wolmaransstad.”

Prof. Andries Raath aanvaar dat Siener van Rensburg Kemp gewaarsku het om nie met die aanval voort te gaan nie omdat dit in stryd met De la Rey se opdragte was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.