Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Terugblik: Steyn, die ‘siel van vryheidstryd’

Vandag 162 jaar gelede, op 2 Oktober 1857, is Marthinus Theunis Steyn naby Winburg in die Vrystaat gebore. Hy was bestem om die laaste president van die Vrystaatse Republiek te word.

Pres. M.T. SteynFoto: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein

Steyn groei op in die kringe van die Vrystaatse Afrikaner-elite, met sy pa ’n uitvoerende raadslid en persoonlike vriend van pres. Jan Brand. Dit maak dat regter Buchanan Marthinus se talente raaksien en sorg dat hy sy sekondêre skoolopleiding in Nederland kan voltooi. Ná sy studies aan die Inner Temple in Londen word hy in 1882 tot die balie toegelaat. Sy Londense jare maak hom intens bewus van die gevaar wat Britse imperialisme vir die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek inhou.

In 1887 trou Steyn met Tibbie, dogter van ds. Colin Fraser van die NG gemeente op Philippolis, en van Skotse oorsprong. ’n Liefdevoller verhouding was daar nie.

In 1892 word Steyn as Vrystaatse hoofregter aangestel. Sy bekwaamheid en aangename persoonlikheid maak hom besonder gewild. As presidentskandidaat in 1896 staan hy nouer samewerking met die ZAR voor net ná die mislukte Jameson-inval. Hy klop Tibbie se oom, J.G. Fraser, wat samewerking met die Kaapkolonie verkies, met gemak. In 1897 versterk die ZAR onder pres. Kruger en die Vrystaat onder Steyn hul bondgenootskap met ’n verdrag wat inhou dat die republieke mekaar militêr ondersteun in geval van buitelandse aggressie.

Ten spyte van die toenemende eise van die Britse hoë kommisaris, sir Alfred Milner, teenoor die ZAR ten opsigte van Uitlanderstemreg, hoop Steyn dat oorlog vermy kan word. Uiteindelik stem hy toe tot ’n ZAR-ultimatum, wat deur Brittanje verwerp word. Op 11 Oktober 1899 breek die Anglo-Boereoorlog uit. Nou sou hy hom met hart en siel in die stryd werp.

Steyn verwerp by ’n paar geleenthede oorgawe wanneer die ZAR dit oorweeg. Hy sou later deur Afrikaners bestempel word as die siel van die vryheidstryd, maar daar is ook die mening dat sy onverbiddelike houding uiteindelik tot die smarte van die oorlog bygedra het. Sedert Maart 1900 toe Bloemfontein deur die Britse magte ingeneem word, is die Vrystaatse regering te velde. Steyn maak die ontberings mee, maar uiteindelik knak dit sy gesondheid. Op 29 Mei 1902, twee dae voor die vredesluiting, dwing dit hom om sy amp neer te lê, en genl. Christiaan de Wet teken die Vrede van Vereeniging as waarnemende staatspresident.

Stadig is sy gedeeltelike herstel ná die oorlog. Dit verhoed dat hy in 1910 beskikbaar is vir die amp van eerste minister van die Unie van Suid-Afrika. Die broedertwis met die Afrikanerrebellie van 1914 is vir hom hartverskeurend. Wanneer hy op 28 November 1916 aan ’n beroerte sterf, is dit tragies-gepas tydens sy toespraak voor die Oranje Vrouevereniging in Bloemfontein – hy wat reeds gedurende die Anglo-Boereoorlog voorgestel het dat daar ’n monument opgerig moet word vir die vroueleed in die oorlog. Dit is aan die voet daarvan dat hy ter ruste gelê word.

Sy welwillende Afrikaner- maar ook Suid-Afrikanerskap verdien nie die herrie rondom sy standbeeld voor die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat nie.

Meer oor:  Terugblik  |  Geskiedenisrubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.