David Kabwa, president van die Universiteit van Pretoria (UP) se studenteraad, is onlangs verkies as die premier van die Statebond se jeugparlement.

David Kabwa
Netwerk24
Hy is die eerste persoon uit Afrika wat verkies is tot dié posisie.
Die jeugparlement het vanaf 24 tot 29 November in Delhi, Indië, vergader waar Kabwa aangewys is as die nuwe premier.
Luidens ’n verklaring wat deur die UP uitgereik is, is die geleentheid deur 40 jeugdiges tussen die ouderdomme van 18 en 29 jaar bygewoon.
In dié parlement leer jong mense van Statebondslande hoe politiek en parlementêre prosesse werk.
“Ek is opgewonde dat ek aangewys is as die eerste premier uit Afrika. Dit demonstreer die gehalte van leiers wat in Afrika voorberei word,” sê Kabwa.
“Meer as 14 lande was teenwoordig, van die Bahamas tot Brittanje. Die ervaring was kultureel verrykend.”
Hy sê sy toekomsplanne is om jong mense te bemagtig om die parlementêre ruimte te betree.
In Indië het die lede van die jeugparlement ook die geleentheid gekry om die land se parlementslede te ontmoet, proef-perskonferensies te hou en bande te smee met mense wat soortgelyke denkwyses het.
Kabwa is ’n finalejaarstudent in politieke wetenskap aan die UP.
Hy is in Augustus 2019 vir die tweede keer verkies as president van die UP se studenteraad en hy beplan om volgende jaar sy honneursgraad in politieke wetenskappe aan te pak.