Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Tuks buit Volcano-trofee, sluit seisoen onoorwonne af

Nico Luus se welslae as hoofafrigter van UP-Tuks 1 het Saterdag op Loftus Versfeld B nóg ’n merkwaardige mylpaal opgelewer toe sy span die tweede seisoen agtereenvolgens met ’n onoorwonne vertoningslys in die Volcano-Superliga afgesluit het.

Theuns Reynolds, kaptein van UP-Tuks 1, ontvang die Volcano-Superliga-trofee van Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie.

UP-Tuks se oortuigende sege met 50-26 oor Naka Bulle in die 2019-eindstryd van die Volcano-Superliga was ’n voortsetting van die Luus-suksesverhaal sedert hy in 2018 die leisels oorgeneem het.

Onder hom as hoofafrigter het UP-Tuks in twee seisoene nog nie een nederlaag in die Volcano-Superliga en die Carltonbeker-reeks gely nie en 31 van hul 32 wedstryde gewen. Die enigste glipsie was die onlangse gelykop-uitslag teen Centurion.

Net so trots en dankbaar as wat Luus oor die klinkende eindstrydsege én gepaardgaande wenpersentasie van 97% was, net so graag het hy dié welslae met almal gedeel wat daartoe bygedra het: van hooggeplaastes soos prof. Susan Adendorff en Theuns Reynolds, onderskeidelik president en voorsitter van TuksRugby, tot elke speler en lid van die bestuurspan.

“Ek sou as hoofafrigter tot min in staat gewees het as dit nie was vir die wyse waarop die TuksRugby-bestuur, my bestuurspan en die uitsonderlik begaafde groep spelers my met hul samewerking, ondersteuning en unieke insette bemagtig het nie,” het Luus ná sy span se oorwinning gesê.

Hy het ook groot lof gehad vir die bestuurspanne en spelers van die ander twee senior Tuks-spanne wat die kampioenskapstitels in hul onderskeie eindstryde gebuit het.

Tuks-Fezelas het Naka Bulle met 39-27 in die tweedeliga-eindstryd geklop, terwyl die Tuks-Jongspan met 31-15 teen Quins-Bobbies in die eindstryd van die derde spanne gewen het.

Die eerstespan-eindstryd was een van twee uiterste helftes.

In die eerste 40 minute het UP-Tuks ’n teksboek-vertoning van kliniese wenrugby gelewer en met rustyd was die koeël so te sê dwarsdeur die kerk. UP-Tuks het danksy hul beste 40 minute van die seisoen kante geruil met ’n voorsprong van 27-0, wat uiteindelik net te groot was vir die moedige Mooters om in te haal.

Dit spreek boekdele vir Naka se veggees dat hulle nie bes gegee het toe hulle met rustyd met ’n onbegonne taak gelaat is nie.

Nie dat Naka Bulle nie probeer het nie. Hulle het hul eerste van vier drieë vroeg in die tweede helfte gedruk, maar UP-Tuks het feitlik elke keer teruggeslaan net nadat Naka punte aangeteken het.

Dit spreek boekdele vir Naka se veggees dat hulle nie bes gegee het toe hulle met rustyd met ’n onbegonne taak gelaat is nie.

Vir UP-Tuks was daar te midde van die groot vreugde ook die werklikheid dat baie van die groot staatmakers van die afgelope twee seisoene in hul laaste wedstryd in aksie was. Dit het die sege nog meer spesiaal vir dié steunpilare gemaak.

Onder die spelers van wie UP-Tuks dalk afskeid geneem het, was die losskakel, Steven Moir. Hy het die gang van die wedstryd met sy betroubare skopskoen dikteer en is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys. Moir het ’n persoonlike bydrae van 25 punte met vyf doelskoppe en vyf strafdoele gelewer.

Vir Johann “Gummie” Riekert was Naka se nederlaag ’n hartseer manier om sy termyn as bestuurder van dié klub se eerste span af te sluit. Hy het die afgelope vyf jaar ’n instelling in klubrugby geword.

  • Quins-Bobbies se uithalerspan het hul tweede kampioenskapskroon in die o.20-liga verower deur Naka in die eindstryd van die Presidentsliga te klop.
Meer oor:  Naka Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.