Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Tuks wen 11de keer in ’n ry

11jaar agtereenvolgens die kampioen. Dit klink te goed om waar te wees, maar dit is presies wat Tuks se agtman-roeispan die afgelope naweek vermag het toe hulle die Universiteitesport Suid-Afrika (Ussa) se regatta in Port Alfred gewen het.

Voor van links is Kyle Schoonbee, David Porter (stuurman) en Henry Torr, in die middel is Tracy Pringle (van die borge Rand Merchant Bank) en Charles Brittain (kaptein) en agter is Michael Carter, Alex Holmes, Luc Daffarn, Ross La Maitre, Mpumi Geza (afrigter) en Sandro Torrente. Foto: Xilia Dreyer

Met die sege het Tuks een van die oudste roeirekords verbeter. Tot verlede jaar was Tuks en die Rhodes-Universiteit die gesamentlike houers. Albei het met tien seges agtereenvolgens gespog, maar Tuks het nog nooit ’n geheim daarvan gemaak dat hulle die alleenhouers wil wees nie.

Daarom het Mpumi Geza, Tuks-afrigter, die laaste paar weke ure daaraan bestee om seker te maak die boot raak ál vinniger. Maar spoed is nooit al waaroor dit gaan nie. Gedurende die oefeninge is daar ook gepraat en beplan wat om te doen as dinge sou verkeerd loop. Dit is ook maar goed dat daar vir die onvoorsiene beplan is, want Saterdag se eindronde was nie sonder drama nie.

Tuks se teenstanders in die eindronde was die Universiteit van Kaapstad. Dit was gedurende die wegspring dat dinge vinnig verkeerd vir Tuks verloop het. Die inkomende gety het dit vir David Porter (stuurman) moeilik gemaak om sy lyn te hou. Die gevolg was dat die twee bote teen mekaar gebots het. Omdat dit Tuks was wat gefouteer het, is hulle met ’n bootlengte gestraf. Toe dit vir ’n tweede keer gebeur is die Tukkies weer gestraf. Hulle moes twee bootlengtes agter die Ikeys wegspring.

In ’n stadium was Tuks amper 37 sekondes agter Ikeys, maar daar was geen keer toe die adrenalien eers inskop nie. In die kalmer waters is die agterstand haal vir haal uitgewis. Op die ou einde was Tuks met meer as 20 sekondes baas.

Een van die ongelooflike statistieke is dat daar ’n Brittain-broer in elk van Tuks se 11 seges betrokke was. Matthew Brittain wat deel was van die Suid-Afrikaanse viermanspan wat goud op die 2012-Olimpiese Spele gewen het, was die eerste om Tuks te help wen. Daarna het sy broer Lawrence (silwermedaljewenner op die 2016-Olimpiese Spele) sy sit in die boot gekry.

Gedurende die 2016-wedvaart was daar drie Brittain-broers (Lawrence, James en Charles) in die boot. Saterdag het Charles (gouemedaljewenner by die o.23-Wêreldkampioenskap) Tuks aangevoer.

Geza beskryf dit as ’n voorreg om die Brittain-broers af te rig.

“Ek het nooit met Matthew gewerk nie, maar ek kan daarvan getuig dat Lawrence, James en Charles ongelooflik passievol oor roei is. Dit maak dit maklik om hulle af te rig. Wat dit opwindend maak is dat hulle self idees het oor wat gedoen kan word om die boot daardie honderdste van ’n sekonde vinniger te maak.

“Eintlik wil ek niemand uitsonder nie. Roei is ’n spansport. As een roeier sy ritme verloor, verloor die span. David Porter, ons stuurman wat die span se strateeg was, het ongelooflik goed gedoen om almal te kry om tot die beste van hul vermoëns te roei.”

Tuks se vroue-A-span het vir ’n vierde agtereenvolgende jaar gewen. Tuks se mans- en vroue-B-span is ook wenners. Dit is die eerste keer dat een universiteit al vier wedvaarte wen.

Meer oor:  Tuks  |  Port Alfred
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.