Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Metro-Beeld
Van kansel tot konsert

As die mure van die kerkgebou van die eertydse NG kerk Linden in 5de Straat met sy tradisionele kloktoring en al kon praat, sou dit omtrent ’n gegons afgegee het.

Gera Phielix Louw, artistieke direkteur van die Linden-kleinteater. Foto: Murray Louw

Nie net het die ingangsportaal se mure ’n stigtelike wit vir pers verruil nie, die kansel het vir ’n gitswart verhoog plek gemaak en pleks van ’n Gesange- en Psalm-boek in die vakkies van die kerkbanke, sal jy eersdaags ’n gedig kry. Die gedig kan jy saamneem huis toe, mits jy een in sy plek los.

Die indrukwekkende, helderpers voordeur is nou die poort na ’n andersoortige geestelike ervaring en pleks daarvan dat ’n klok lui, sal musiek vanuit die orrel dit uitbasuin dat die vertoning gaan begin.

Want, dames en here, ons stel bekend: Die Linden-Kleinteater.

“Dit is iets soos ‘van kansel tot konsert’,” verduidelik Gera Phielix Louw, artistieke direkteur, een Vrydagoggend baie opgewonde waar ons in die voorste bank van die teater sit. Die sonlig val sag deur die kleurvolle loodglasvensters en in die paadjie, waar bruide eens op die rooi mat na die kansel afgestap het, is ’n skoonmaker bedrywig.

Die kerkgebou dateer van 1936.

Louw glo dit is hoog tyd dat Linden ’n teater kry.

“Al die lekker venues is in Pretoria. En nie almal van ons het die tyd of die geld om kunstefeeste te besoek nie.”

Nou kan Johannesburg se teatervlooie hul dosis kuns en kultuur op hul eie voorstoep geniet.

Al die lekker venues is in Pretoria. En nie almal van ons het die tyd of die geld om kunstefeeste te besoek nie.

Die teater is ’n intieme ruimte. Die orrel gaan nêrens heen nie en die kleurespel van die loodglasvensters sal teatergangers uitnodigend nader wink. Welliswaar nou nie meer vir ’n preek nie, maar vir ’n unieke teaterervaring.

Daar is sitplek vir sowat 300 mense, as jy die sitplekke op die galery bytel.

“Die gebou was ’n wit olifant wat niemand geweet het wat om mee te maak nie,” vertel Louw, wat voorheen ’n sang­leier by Doxa Deo Linden was.

Die gemeente se byeenkomste vind Sondae in die kerksaal plaas en Doxa is in die proses om die hele eiendom te bekom.

“Die gemeente wat voorheen hier bymekaar gekom het, het met die NG kerk Aasvoëlkop saamgesmelt. Die dienste word nou by Aasvoëlkop gehou.

Waar die kansel eens in die NG kerk Linden gestaan het, is daar nou ’n swart verhoog.

“Toe staan ek eendag hier voor in die kerk en merk dat die vloer net soos in ’n teater so met ’n helling loop.”

Net daar is die droom gebore: Begin ’n teater. Skep ’n platform, ook vir kunstenaars wat nog nie naam gemaak het nie en wat dit nie noodwendig in die hoofstroom kunstebedryf sal maak nie.

“Daar is ’n wanbalans in die kunste wat ek glo só reggestel kan word,” sê Louw.

Maar sal dit werk? Sal mense kom?

“Dit sal werk, want ek glo dit is my roeping. Dit is wat ek gemaak is om te doen.

“En mense hoef nie bekommerd te wees nie. Die kerk is nie nou skielik ’n klub omdat dit swart geverf is nie. Die produksies sal geskik wees vir die hele gesin.

“Ons gaan die standaard hoog hou. Dit gaan steeds ’n lig in die gemeenskap wees.”

Die idee is dat teatergangers tussen twee kaartjies sal kan kies – ’n gedeelte van die dominee-kaartjie sal aan liefdadigheid geskenk word, en die ouderlingkaartjie sal twee glase wyn insluit.

Louw hoop om ook groot name in die bedryf te lok – kunstenaars soos Karen Zoid, Coenie de Villiers, Die Melktert Kommissie, noem sy hulle op.

Die teater open amptelik op 8 November met State of the Heart deur Amanda Strydom.

  • Bespreek by lindenkt.co.za of stuur e-pos na bookings@lindenkleinteater.co.za.
Meer oor:  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.